Yutané Nienaber (12) van Welkom het Saterdag (01/10) wonderbaarlik oorleef toe sy met haar vierwielmotorfiets 20m vorentoe geskiet en deur die lug getrek het, en op ’n betonblok in ’n sloot te lande gekom het.
“Oomblikke voor die ongeluk het ek en sy nog gestry, omdat sy nie haar valhelm wou dra nie,” sê haar ma, Roxanne Nienaber.
Nienaber sê sy glo haar kind sou dood gewees het sonder die valhelm, wat tydens die ongeluk erg gekraak het.
Die gesin, wat buitelugmense is, het Saterdagoggend by Torontopan met hul vierwielmotorfietse gaan ry.
“Ons het eetgoed ingepak en beplan om piekniek te hou, maar ons het skaars weggetrek, toe Yutané beheer oor haar fiets verloor het,” sê Nienaber.
Yutané het glo te veel vet gegee toe sy deur sand gery het en die fiets het met haar vorentoe geskiet en in ’n stormwatersloot teen die waterpan beland.
“Ons dink die motorfiets het bo-op haar beland en dat sy met haar nek en kop teen ysterpype op ’n betonblok, wat deel is van die stormwaterstelsel, geval het.”
Yutané het bewusteloos op die betonblok onder in die sloot, teen die waterpan gelê en Quentin, haar pa, het die valhelm verwyder en mond-tot-mondasemhaling toegepas.
Nienaber het intussen na die grootpad gery, waar sy mense gebel het, wat saam met die ambulansdiens na die plek gery het, waar Quentin by sy dogter gewaak het.
Nooddienste het weens die ruwe terrein gesukkel om Yutané met ’n draagbaar uit die sloot te bring en ’n insleepdiens is gebruik om met ’n kabel die draagbaar teen die skuins helling uit te trek.
Sy is na die Welkom-Mediclinic geneem, waar sy met ’n gebreekte been, geskeurde ligamente en geskeurde spiere opgeneem is en moes ’n operasie van bykans vyf uur ondergaan. Haar regterbeen is van bo tot onder in gips en sy sal na verwagting vandeesweek ontslaan word. Nienaber sê sy en haar man geniet dit om saam met hul kinders, Yutané, Minique (10) en Quentin (3) tyd in die buitelug deur te bring, maar gaan beslis die vierwielmotorfietse wegbêre.
“Ons sou die week see toe gaan met vakansie, maar dit is nou van die baan,” sê sy.
Quentin werk in Botswana en is lang tye van die huis af weg. Nienaber is voltyds by die huis, waar sy na die kinders omsien.
Yutané is volgens haar ’n bedrewe motorfietsryer, maar het ’n tydlank nie gery nie, omdat haar fiets hersien moes word.
“Ek glo dis ’n wonderwerk dat my kind die ongeluk oorleef het, maar ek wil vir mense sê, wat hulle ook al doen, maak seker dat kinders valhelms dra.”