Operasie Vala uMgodi het in Welkom en Thabong groot sukses behaal. Binne twee dae is meer as R60 000 se dwelms gevind en twee mans is in hegtenis geneem.
Bekamping- en proaktiewe-spanne het vandag, 22 November, tydens ’n intelligensie-gedrewe veldtog by Thokoza naby Welkom beslag gelê op gedroogte dagga-blare wat in groot en klein sakke verpak was. Die beraamde straatwaarde van dít is R15 000. Daar is ook beslag gelê op kontant wat vermoedelik die opbrengs van dwelmhandel is. Die polisie het ’n 27-jarige man in hegtenis geneem.
“’n Saak van handel in dwelms is by Welkom-polisiestasie geopen en die verdagte bly in polisie-aanhouding,” sê lt kol. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder van die Lejweleputswa-polisie.
Op 20 November het lede verbonde aan die Welkom K9-eenheid ’n buitelander, wat in besit was van dwelms met ’n geraamde straatwaarde van R52 400, in hegtenis geneem.
“Lede van die Welkom K9-eenheid, onder leiding van kaptein Evard Wasmuth, het inligting ontvang oor ’n verdagte wat besig was om dwelms in Welkom te versprei,” sê Thakeng.
Die inligting is geoperasionaliseer en weglê-pligte is in Zombastraat, Doorn, uitgevoer. ’n Soektog is toe gedoen en daar is beslag gelê op 80 g metamfetamien (“crystal meth”), 132g CAT-dwelms en 20 stukke kokaïen ter waarde van R52 400.
’n Vier-en-veertig-jarige manlike buitelander is vir die besit van dwelms in hegtenis geneem.