Staatshospitale het sedert 1 April 2022 tot 28 Februarie 2023 R685 miljoen aan diesel vir hul kragopwekkers bestee, om die ligte aan die brand te hou.
Dit blyk uit ’n geskrewe vraag van die VF Plus aan die minister van gesondheid, dr. Joe Phaahla, nadat die minister nie die vraag mondelings in die parlement kon beantwoord nie.
Luidens die antwoord is die besteding per provinsie as volg:
¦ Oos-Kaap: R81 134 000
¦ Vrystaat: R21 263 000
¦ Gauteng: R131,357,000
¦ Kwazulu-Natal: R178 387 000
¦ Limpopo: R57 656 000
¦ Mpumalanga: R44 659 000
¦ Noord-Kaap: R28 303 000
¦ Noordwes: R40 494 000
¦ Wes-Kaap : R102 684 000
“Die land se openbare gesondheidsdienste sit reeds met ’n agterstand van 175 000 mediese prosedures en mediese regseise ten bedrae van R125 miljard. Dan moet hierdie astronomiese bedrae bykomend aan kragopwekking bestee word,” sê Philip van Staden, VF Plus-LP en die party se hoofwoordvoerder oor gesondheid.
Hierdie faktore alleen dui daarop dat dit nie nou die regte tyd is om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) na die nasionale vergadering te stuur vir goedkeuring nie.
Van Staden sê die wetsontwerp moet op ys geplaas word totdat die gesondheidsektor gestabiliseer het en effektief kan funksioneer.
Hy beweer dat met slegs 76 staatshospitale en klinieke uit ’n totaal van 213 wat in hierdie stadium vrygestel is van beurtkrag (antwoord van minister op 9 Februarie 2023), kan die bestaande kragkrisis by gesondheidsinstellings net vererger met die winter wat voorlê.
Indien Suid-Afrika se infrastruktuur nie heeltemal in duie gestort het nie en behoorlik bestuur en in stand gehou is die afgelope 29 jaar, en indien korrupsie, wanbestuur en wanadministrasie nie aan die orde van die dag was nie, sou hierdie groot kopsorge nooit opgeduik het nie.
Hy sê met die Eskom-krisis wat tans die land op sy knieë het, is dit nie nou die tyd om die NGV deur die parlement te probeer dwing nie.
“Daar moet eerder nou planne beraam word oor hoe om die huidige kragkrisis in die openbare gesondheidsektor hok te slaan,” sê Van Staden.