Mediese eise wat die Vrystaatse departement van gesondheid moet uitbetaal, beloop meer as R24 miljoen.
Die eise hou verband met gesondheidswerkers wat nalatig opgetree het.
Die Vrystaatse LUR vir gesondheid, Mmathabo Leeto, het in ’n vraag-en-antwoord-sessie in die Vrystaatse wetgewer erken dat nalatigheid onder andere tot die dood van ’n ongebore baba gelei het.
Nalatigheid was ook die oorsaak dat twee kinders nou serebraal gestremd is.
In ’n ander geval is ’n depper in die buik van ’n pasiënt vergeet wat tot ’n ernstige galblaas-besering gelei het.
Die VF Plus het tydens die sessie hul bekommernis uitgespreek oor die 418 hangende eise waarby die departement betrek word. Soveel as 173 van die eise hou verband met na-geboorte komplikasies van serebraal-gestremde kinders.
Hoewel nalatigheid in hierdie eise nog bewys moet word, is die VF Plus bekommerd oor die gevalle wat teen die departement aangemeld word en oor eise wat voorkom kon word.
Intussen word die wetsontwerp op die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) voorgehou as die antwoord op gesondheidsprobleme in die provinsie.
Nalatige dokters en verpleegpersoneel gaan nie deur die NVG verbeter word nie.