Die 40ste wenner van die Matrikulant van die jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat, Netwerk24 en Volksblad sê sy eerste jaar as mediese student aan Kovsies het tot dusver alle verwagtinge oortref en hy geniet elke oomblik terdeë.
Inskrywings vir dié kompetisie, waarin 25 matrikulante pryse en beurse ter waarde van duisende rande kan wen, het reeds begin.
Niël van der Walt, 2021 se hoofseun van die Hoërskool Wesvalia in Klerksdorp, sê dit was vir hom ’n groot voor- reg om aan die kompetisie te kon deel- neem. Om in die eindronde in Bloemfontein die res van die finaliste te ontmoet was ’n hoogtepunt.
Tydens dié geleentheid het 2019 se finaliste ook tyd saam met die groep matrikulante deurgebring. “Dit was lekker om met die 2019-finaliste te kon praat oor hoe hulle die mediese studie ervaar en oor wat ons kon verwag.
Niël het sy hart op Bloemfontein verloor. “Bloemfontein is goed vir my. Dis ’n stad, maar nie soos Pretoria nie. Ek voel só tuis hier. Hy het by ’n dag- koshuis aangesluit om ander studente as sy klasmaats te ontmoet en is reeds by ’n kerkgemeenskap ingeskakel, want “Bloemfontein is meer as die universiteit en akademie”.
Hoewel Niël uit ’n familie van medici kom – sy pa, oupa en oom is almal dokters en oud-Kovsies – was sy kleuter- droom om ’n rugbyspeler te word. Vanweë sy liefde vir wiskunde wou hy later aktuaris word, en nadat hy die TV-reeks Suits gekyk het, het die regswêreld ook aanloklik gelyk. Toe dit egter tyd raak om aansoek te doen om toelating, was hy seker dat hy ’n dokter moes word. “Alles het tot dusver goed uitgewerk volgens die Here se plan,” sê Niël.
Matrikulante, wat nie net akademies presteer nie, maar wat ook betrokke is by kultuur, sport en leierskap by hul skole en wat beoog om in 2023 heeltyds aan die UV te studeer kan hulle inskryf. Gemeenskapsdiens en -betrokkenheid van leerlinge word ook tydens die beoordeling in ag geneem.
Matrikulante kan hulle inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet egter op die vorm aangebring word.
Inskrywings word volgens vaste kriteria beoordeel en 25 semifinaliste word aangewys. Altesaam 14 finaliste, wat uit die 25 gekies word, neem aan die Matrikulant van die Jaar-eindronde van 4 tot 6 Oktober in Bloemfontein deel.
Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-Trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, en die eindronde-geleentheid in Bloemfontein en geskenke ter waarde van R10 000.
Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van Kovsie Alumni-Trust en beurse van UV Studentewerwing.
Inskrywings moet die UV voor of op 5 Augustus bereik. Vir inskryfvorms of meer inligting, stuur e-pos aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.