Deur finansiële bystand te verleen en erkenning aan matrikulante te gee, hoop die Kovsie Alumni-trust (KAT) om saad te plant wat toekomstige geslagte se behoefte aan hoër onderwys sal bevoordeel.
Kathy Verwey, voorsitter van die KAT, sê die trust se betrokkenheid by die Matrikulant van die Jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat (UV), Netwerk24 en Volksbladstrook met sy breër missie om onderwys en opleiding aan die UV te ondersteun, terwyl dit bydra tot die universiteit se doelwit om ’n toonaangewende instelling vir hoër onderwys te wees.
Die borgskap dra direk by tot die trust se missie om beurse en geleenthede vir studenteonderrig aan die UV te verskaf.
“Die doel van die kompetisie om uitstekende matrikulante te identifiseer en te beloon wat nie net akademies presteer nie, maar ook in leierskap, kultuur en sport uitblink, resoneer met die KAT se doelwit om talentvolle studente te werf en akademiese leiers binne die UV-gemeenskap te koester,” sê Verwey.
“Deur matrikulante te ondersteun wat aktief aan kulturele en sportaktiwiteite deelneem, bevorder die trust ’n holistiese benadering tot onderwys.”
Een veelsydige matrikulant wat verlede jaar ’n finalis in die kompetisie was, Renienke van Heerden, was nie net ’n akademiese uitblinker nie, maar ook ’n knap redenaar, hokkiespeler en onderhoofmeisie van haar skool.
Vanjaar ’n eerstejaarstudent in arbeidsterapie, borrel Renienke oor hoeveel sy haar studentelewe geniet.
“Daar is heelwat goed op die kampus aan die gang en as ’n lid van ’n dagkoshuis is dit lekker om nuwe mense te ontmoet.”
Renienke, wat verlede jaar aan die Hoërskool Jim Fouché in Bloemfontein gematrikuleer het, vertel sy was ’n bietjie senuagtig voor die eindronde verlede jaar in die stad.
“Maar alles was beter toe ek eers daar aankom! In die onderhoude kon ’n mens net gemaklik en jouself wees.
“Dit het my ook selfvertroue gegee vir toekomstige onderhoude.”
Verwey se opmerking sluit hierby aan.
“Deelname aan so ’n kompetisie gee aan matrikulante erkenning vir hul harde werk, wat hul selfvertroue ’n hupstoot gee en hulle kan motiveer om na uitnemendheid te streef.
“Om as ’n finalis of wenner erken te word kan vir die deelnemers deure oopmaak vir verdere opvoedkundige en loopbaangeleenthede.”
Skryf jou nou in
Topmatrikulante van oor die land heen kan hulle nou vir hierdie kompetisie inskryf.
Benewens akademiese prestasie, leierskap, kultuur- en sportdeelname, moet deelnemers van plan wees om in 2025 heeltyds aan Kovsies te studeer.
Die leerling self óf sy of haar skool kan inskrywings indien. Die vorm moet egter die handtekening van die skoolhoof en die stempel van die skool op hê.
In die eerste ronde van beoordeling word 25 semifinaliste gekies waaruit eindelik 14 finaliste aangewys word.
Die eindronde is van 30 September tot 2 Oktober in Bloemfontein.
Die wenner en 13 finaliste wen prysgeld van die borge die KAT, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk.
Daarbenewens word beurse van UV Studentewerwingsdienste toegeken, asook geskenke ter waarde van R15 000 tydens die eindronde.
Vir die 11 semifinaliste is daar ook erkenning. Hulle ontvang prysgeld van die KAT en beurse van UV Studentewerwing.
Alle inskrywings moet die UV teen Vrydag 2 Augustus bereik.
Kontak Linda Greyling per e-pos by greylinl@ufs.ac.za, of skakel 082-929-9999 vir inskryfvorms en meer inligting.