Die speaker van die Vrystaatse wetgewer, Zanele Sifuba, is baie beïndruk met die matriekklas van 2023 se uitslae.
Dié matriekleerlinge het ’n nasionale slaagsyfer van 82,9% behaal, wat die hoogste slaagsyfer in die geskiedenis van die Nasionale Seniorsertifikaat (NSS)-eksamen is.
Die Vrystaat het sy topposisie behou en die hoogste matriekslaagsyfer in die land behaal soos aangekondig deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.
Drie distrikte in die Vrystaat het tot die nasionale top-tien presterende distrikte deurgedring. Hul goeie prestasie stem ooreen met dié van hul voorgangers van die vorige jaar.
In 2022 was die provinsie se slaagsyfer 88,05%, en vir 2023 is dit 89,03%.
Sifuba sê die LUR vir onderwys, Makalo Mohale, moet geloof word vir die leiding van die departement om die nommer-een plek in die land te behaal.
“Sy leierskap en toewyding word weerspieël deur die uitstaande matriekuitslae van die klas van 2023,” sê sy.
Sy vra ook dat die ouers en gemeenskappe van die leerders wat dit nie gemaak het nie, hulle moet ondersteun.