Die Matjhabeng plaaslike munisipaliteit se kaderontplooiing en finansiële beperkings het vir die inwoners van Odendaalsrus Blok A, ’n punt van geen terugkeer bereik.
Onlangs het ’n elektrisiteitskabel by ’n straatligpaal gebrand. Die kabel is toe aan ’n paal oorkant die straat gekoppel, en toe net oor die straat gelei en bedek met sand.
Meer kommerwekkend is die rioolstortings rondom die elektriese-substasie wat al vir maande lank aangemeld word.
Die rioolstorting het die substasie in Charlesstraat omring en dié het al verskeie kere opgeblaas het weens water in die stasie. Die kabel wat oorkant die straat is, is in die riool wat al maande lank in die strate afloop.
“Inwoners wat in omliggende huise bly moet in daardie reuk leef en hulle kan nie hul toilette spoel nie,” sê Igor Scheurkogel, raadslid .
Hy beklemtoon die erge rioolprobleme in Matjhabeng.
“Regoor Matjhabeng het inwoners rou riool wat in hul erwe en huise oorloop omdat die Matjhabeng-amptenare nie reageer op of aandag gee aan diensleweringskwessies nie,” sê hy.
Sheurkogel sê inwoners en wyksraadslede moet private maatskappye en hul eie geld gebruik om kwessies op te los net om in ’n gesonde omgewing te leef soos verskans in die grondwet.
Die afwesigheid van dienslewering kan direk gekoppel word aan die ANC-kaderontplooiing van amptenare wat nie die kwalifikasies het om te verseker dat herstelwerk behoorlik gedoen word of die korrekte MFMA-beleide geïmplementeer word sodat gesonde finansiële praktyke nagekom word en dat openbare geld korrek spandeer word nie.
“Verder implementeer die senior amptenare en politieke leierskap nie gevolgbestuur sodat ons ’n openbare administrasie het wat in staat en gewillig is om die inwoners van Matjhabeng te dien nie.”