‘Matjhabeng-inwoners moet voorberei vir totale ineenstorting’

AfriForum versoek dat die provinsiale regering ingryp en finansiële hulp aan die alreeds sukkelende Matjhabeng- munisipaliteit bied om te verseker dat basiese dienste steeds gelewer kan word.


AfriForum versoek dat die provinsiale regering ingryp en finansiële hulp aan die alreeds sukkelende Matjhabeng- munisipaliteit bied om te verseker dat basiese dienste steeds gelewer kan word.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, het in ’n brief aan die premier gevra vir ingryping van die provinsiale regering om skade te beperk nadat skuldeisers bates van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit begin opskryf het. Kontrakteurs van die Matjhabeng-munisipaliteit het ’n hofbevel bekom om sowat R270 miljoen se bates van die munisipaliteit op te skryf om die gelde verskuldig aan die kontrakteurs te delg.

“Daar is reeds ’n groot hoeveelheid bates opgeskryf wat die munisipaliteit benodig om dienste te lewer. Die munisipaliteit is reeds op sy knieë as gevolg van korrupsie en sukkel om basiese dienste te lewer. Met die opskryf van die bates om die skuld te delg, sal die munisipaliteit geen kapasiteit hê om enige dienste te lewer nie,” sê Grobbelaar.

Grobbelaar het bygevoeg dat die belastingbetalers diegene is wat die meeste benadeel word en swaar gaan kry indien die saak nie beredder word nie. “Mense wat gereeld hul munisipale rekening en belasting betaal, sal die ergste beïnvloed word weens ’n gebrek aan dienslewering. Sonder die bates kan daar onder meer nie vullis verwyder word, lekkasies herstel word of rioolpype ontblok word nie. Dorpe in die Matjhabeng-munisipaliteit loop deur onder riool wat in strate en erwe invloei en nou sal inwoners nóg minder kan doen om dit te verhoed. Inwoners moet hulself voorberei vir die ineenstorting van dienslewering indien die provinsiale regering nie ingryp nie,” sê Grobbelaar.

AfriForum is ook gereed om die gemeenskap te help indien die munisipaliteit nie hul grondwetlike pligte nakom nie. “Ons sal ons bes doen om die gemeenskap van die Matjhabeng-munisipaliteit te ondersteun waar ons kan indien die situasie nie verander nie. Mense het die reg tot basiese dienste en as die munisipaliteit dit nie meer kan doen nie, sal ons planne maak om ons gemeenskappe te help,” sluit Grobbelaar af.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.