Matjhabeng: Geen oplossing vir voortslepende staking

Sedert die begin van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu)-staking op 29 Januarie, word die inwoners van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit deur die senior politieke leierskap en die munisipale bestuurder in die steek gelaat.

Die gebrek aan ingryping om die voortslepende staking op te los dien as ’n aanklag teen die bestuur van Matjhabeng. Foto: Marti Will


Sedert die begin van die Suid-Afrikaanse Munisipale Werkersunie (Samwu)-staking op 29 Januarie, word die inwoners van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit deur die senior politieke leierskap en die munisipale bestuurder in die steek gelaat.

Hul gebrek aan ingryping om die voortslepende staking op te los dien as ’n aanklag teen die bestuur.

Griewe teen Thanduxolo Khalipha, uitvoerende burgemeester, is die kern van die staking. Munisipale werknemers kla dat die uitvoerende burgemeester inmeng met die administrasie en operasionele aangeleenthede. Hierdie gedrag is teenstrydig met die Munisipale Stelselswet.

Khalipha word verder daarvan aangekla dat hy by verskeie geleenthede die munisipale bestuurder en hoof finansiële beampte opdrag gegee het om sekere betalings te maak wat teen die voorskrifte van die Munisipale Finansiële Bestuurswet is. Dié wet stel dit duidelik dat burgemeesters nie mag inmeng met die verantwoordelikhede van die rekenpligtige beampte en hoof finansiële beampte nie.

Dr. Igor Scheurkogel, DA-koukusleier van Matjhabeng, sê dit is duidelik dat die stilswye van ANC-strukture en die leierskap op alle vlakke beduidend is dat hulle die verdelende en konflikgeteisterde Khalipha beskerm tot nadeel van inwoners – tot so ’n mate dat dienslewering tot stilstand kom.

“Die gebrek aan optrede teen Khalipha laat die vraag waarom die ANC op alle vlakke hierdie uitvoerende burgemeester goedkeur ontstaan,” sê hy.

“Ons veroordeel geweld, intimidasie, vernietiging en vandalisme van munisipale eiendom en hulpbronne. Uiteindelik betaal inwoners die prys as gevolg van ’n magsbehepte individu wat nie demokrasie omhels of enige sin vir ’n samewerkende regering het nie,” sê Scheurkogel.

Hy sê verder dit is die direkte gevolg van wanneer die ANC sy lede, strukture en takke ignoreer en ’n kaderpolitikus op die Matjhabeng-leierskapverhoog ontplooi weens sy nasionale verbintenisse.

Hy sê hulle sal voortgaan om die departement vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die Vrystaat te versoek om in die huidige toestand van Matjhabeng in te gryp.

You need to be Logged In to leave a comment.