Die uiters suksesvolle Wintermark word weer hierdie jaar aangebied deur vier suksesvolle vroue naamlik Salome, Nalda, Melissa en Wilmien.
Die belofte is verlede jaar gemaak dat 2024 se Wintermark groter, beter en iets nuuts sal wees.
Ná vele oproepe, beplanning en stresvolle dae is Wintermark 2024 aanmekaargesit.
Hierdie vier vroue het niks ontsien nie om die mark meer toeganklik te maak vir almal. Hulle het geluister na verlede jaar se oproepe om dit meer rolstoelvriendelik te maak.
Skole is weer genader en kore van die Goudveld se laerskole sal met suiwer stemme die gehoor bekoor.
Kunswerke van leerlinge word ook uitgestal in die saal en elkeen kan trots voel op sy handewerk.
’n Eerste hierdie jaar vir die Wintermark is die “bubble house”, waarin kinders en ouers lekker kan baljaar. Gesigverf, sneeu, karnaval ritte, mallemeule en nog vele meer is vir die kinders gereël.
Vir die tieners, en dalk ook grootmense, is daar die nuwe 360°-kamera wat sal staan op die platvorm waar die wêreld om jou draai. Supercool!
Nog ’n eerste waarmee die vrouens vorendag gekom het, is die gholf-simuleerder.
Kom kyk gerus wat jou voorgee sal wees.
Op die Salt ’n Pepper-venue se terrein sal die geure van braaivleis en heerlike eetgoed deur die lug trek. Honger magies sal gestil word deur die verskeie kosstalletjies wat hierdie jaar beskikbaar is. Vir die kinders is daar natuurlik die immergewilde gesig-spookasem.
Wat is ’n mark sonder handgemaakte items? Hierdie jaar stel die uitstallers nie teleur nie en het hulle net die beste gegee sodat die vroeë Kersinkopies gedoen kan word.
Vermaak vir almal is ook gereël. Salome, Melissa, Nalda en Wilmien kon nie voorbly met kunstenaars wat wil deel wees van hierdie wintermark nie.
Mel die Storieverteller gaan die lagspiere laat werk met pittige sê-goed en harte sommer warm maak.
Zak Steyn, Barto, Die Piesangskille en Dennis Kent is van die kunstenaars wat gaan optree. Elkeen van hierdie kunstenaars sien daarna uit om die Goudvelders te ontmoet.
Hierdie jaar het die vroue ook ’n kompetisie ingesluit waarin R5 000 gewen kan word. Inskrywing sal by die ingangshek gedoen word.
Elke dag staan iemand ’n kans om R500 te wen met ’n versteekte item-kompetisie.
- Die program is: Woensdag 29 Mei – Mel die Storieverteller;) Donderdag 30 Mei – Goudveld-laerskoolkore;) Vrydagaand 31 Mei – gholf-simuleerder;) Saterdag 1 Junie – 360°-kamera; en) Saterdag 1 Junie – Zak Steyn, Barto, Die Piesangskille en Dennis Kent.
Die program beloof vier dae van absolute vermaak vir Goudveld en beloof om die grootste van sy soort ooit te wees.