Dit is met teleurstelling, woede en hartseer dat ek hierdie brief skryf. Vir jare rapporteer ek die stukkende straatligte in Maree-, Mozart- en Craib-strate in Riebeeckstad.
Op die hoek van Maree- en Mozartstraat is die lig van die paal afgebreek en saans is dit pikdonker daar. Hier waar ek sit en skryf hoor ek hoe die jonges en leerlinge van die hoërskool luidkeels skree en partytjie hou in die donker.
Die musiek is kliphard en die reuk van dagga hang in die lug. Daar word gedrink en jy hoor hoe die bottels stukkend gegooi word. Indien die lig nie so gou moontlik herstel word nie gaan ek weer die premier van die Vrystaat kontak om te kyk wat hier aangaan. Hier vind daagliks inbrake plaas en hier woon bejaardes.
Nog ‘n probleem is die slaggate in Mozart- en Mareestraat asook McLeanstraat in Riebeeckstad. Kan die verkeersbeamptes nie meer opsigtelik kan wees nie?
Ek sal dit hoog op prys stel as die polisie gereelde observasies kan doen by die Riebeeckstad Hoërskool wanneer die skool uitkom. Ek wil hierdie boodskap aan die burgemeester van Matjhabeng en sy bestuur oordra – om diensbaar te wees beteken om vir ander mense beskikbaar te wees, om hulle te leer ken, om hulle behoef-
tes raak te sien en iets daadwerkliks daaraan te doen.
‘n Mens kan dit net regkry as jou hart vir ander oopgaan, in só ‘n mate dat jy jou hande uit jou moue sal steek vir hulle.


