Twee mans van Welkom is in hegtenis geneem nadat bykans 200 Mandrax-tablette in hul besit gevind is.
Die mans, onderskeidelik 23 en 35 jaar oud, is in afsonderlike voorvalle deur die teenbende-eenheid van Welkom aangekeer.
Polisiebeamptes verbonde aan die teenbende-eenheid onder leiding van sers. Thabang Thesele het Woensdag misdaadbekampingspligte uitgevoer toe hulle inligting van ’n bron ontvang het oor ’n voertuig wat glo dwelms na Flamingo-park, Welkom vervoer. ’n Voertuig soos die een wat beskryf is, is opgemerk en gevra om stil te hou.
’n Soektog is uitgevoer en die 23-jarige man wat die voertuig bestuur het, is deursoek. Hy is vir die besit van 80 Mandrax-tablette in hegtenis geneem.
In ’n afsonderlike voorval, terwyl hulle in die Welkom-nywerheidsgebied gepatrolleer het, het lede ’n verdagte voertuig opgemerk wat naby ’n vulstasie geparkeer was.
Die voertuig is genader en deursoek. Die 35-jarige man wat die voertuig bestuur het, is op die toneel in hegtenis geneem nadat 100 Mandrax-tablette gevind is.