William Ratau MorekiFoto: Valke


’n Man wat aan bedrog skuldig bevind is, is tot vyf jaar direkte gevangenisstraf gevonnis, sonder die keuse van ’n boete, nadat hy skuldig gepleit het op dié aanklag.

Op Dinsdag 6 Februarie het die Bothaville-streekhof vir William Ratau Moreki (50) gevonnis nadat hy op 5 Februarie skuld beken het op ’n aanklag van bedrog.

Die vonnisoplegging is as gevolg van ’n in-diepte ondersoek deur die Welkom-Valke se ondersoekeenheid teen ernstige korrupsie gedoen is. Hulle het inligting ontvang oor ’n persoon wat besig was om homself as ’n bekende aanklaer in Welkom voor te doen.

“Moreki was bekend met die inhoud van die saakdossier waar dié klaer ’n beskuldigde was. Hy het toe verskillende selfone gebruik om die klaer te kontak en R100 000 geëis en hy sou dan die saak terug trek en van die rol laat verwyder. Hy het hom toe voorgedoen as ’n advokaat en ’n senior staatsaanklaer by die Welkom-landdroshof,” sê AO Fikiswa Matoti, woordvoerder van die Valke.

Moreki is op 1 Maart 2023 in hegtenis geneem toe die klaer ’n bedrag van R5 000 by die Bothaville-landdroshof aan hom betaal het. Daar is toe vasgestel dat Moreki eintlik ’n veroordeelde gevangene was wat ’n tronkstraf van 15 jaar uitdien vir gewapende roof. Hy is op 28 Februarie 2023 op parool uit die Rooigrond-gevangenis vrygelaat.

Hy is toe in hegtenis geneem en het op verskeie geleenthede voor die Bothaville-streekhof verskyn tot 5 Februarie toe hy skuld beken het. “Sy borgtog is geweier met sy eerste verskyning en hy is in aanhouding omdat hy sy paroolvoorwaardes oortree het,” sê Matoti.

Genl. maj. Mokgadi Bokaba, provinsiale hoof van die Valke in die Vrystaat, het die ondersoekbeamptes toegejuig vir die ywerige ondersoek wat gelei het tot die vonnisoplegging van Moreki.

You need to be Logged In to leave a comment.