Die vermoorde Mark Regal (50). Foto: Verskaf

Credit: Verskaf

Die moordverdagte in die Mark Regal-saak het sy borgaansoek laat vaar, en bly in aanhouding.

Dié bekende Goudvelder is twee jaar gelede op sy familieplaas, Thelma, buite Odendaalsrus doodgeskiet.

Tydens die aanval is ’n Nigeriese burger, Obi Okaye (55), geskiet en is op die toneel dood.

Regal (50) is op sy pa se plaas vermoor toe twee aanvallers op 11 November 2020 toegeslaan het.

Regal se moord is deur lt.kol. James Mahlatsi van die polisie se eenheid vir provinsiale georganiseerde misdaad, ondersoek.

Ná ’n onvermoeide ondersoek is die verdagte, Khulekani Kaizer Mthethwa (45), geïdentifiseer en deur middel van DNS-ontleding met die misdaadtoneel verbind.

Mthethwa is ’n verhoorafwagtende gevangene. Hy word aangekla vir ’n sakeroof wat in Odendaalsrus gepleeg is, en is sedert 2021 in aanhouding vir dié sakeroof.

Mahlatsi het die verdagte van die moord op Regal in hegtenis geneem en aangekla.

Mthethwa het tydens sy borgaansoek op 2 Junie in die Welkomse landroshof sy borgtogaansoek laat vaar. Die saak is tot 29 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.