ZC van Wyk, Porcupine Bay, Villiers, Vrystaat:
Ek stuur hierdie skrywe uit desperasie oor ’n bekende persoon uit die Goudveld wat skoonveld verdwyn het.
Henri de Beer het op 26 Januarie in Suid-Korea vermis geraak en sy familie is raadop en kry geen hulp van SAPS of Suid-Afrikaanse regering nie.
De Beer het ’n geleentheid gekry op die internet om dokumente na Suid-Korea te neem en hy sou R51 000 betaal word.
Toe hy in Johannesburg aangekom het, het die sogenaamde agent, ’n vrou met die naam Pulani, aangedring dat hy ’n nuwe tas kry om die dokumente in te vervoer.
Die agent het toe self ’n tas gaan uitkies vir De Beer.
Die laaste kommunikasie wat ons met hom gehad het was op 26 Januarie.
De Beer sou in die Toyoko Inn Incheon Bupyeong Hotel in Seoul woonagtig wees, maar het nooit opgedaag nie en ons het niks weer van hom gehoor nie.
Dit is nie sy karakter om so op te tree nie en ons vemoed die ergste.
Hy is sy hele lank ’n inwoner van die Goudveld en is welbekend in die area. Ek hoop van harte dat iemand my behulpsaam kan wees.