Man kern tot Valke se ondersoek

Die Valke in die Vrystaat is op soek na ’n man wat kan help om ’n drie jaar lange ondersoek na onwettige mynbedrywighede in Welkom af te sluit.


Msimango Wonder Samuel kan die Valke help om ’n ondersoek na onwettige goudmynbedrywighede af te sluit. Foto: SAPD

Die Valke in die Vrystaat is op soek na ’n man wat kan help om ’n drie jaar lange ondersoek na onwettige mynbedrywighede in Welkom af te sluit.

Kapt. Christo­pher Singo, woordvoerder van die Valke, sê Msimango Wonder Samuel kan die Valke se ondersoekspan help met inligting nadat agt mense, onder wie sakelui van Welkom, in November in hegtenis geneem is.

Die polisie, Harmony Gold en Bidvest Protea het saamgewerk om hulle in hegtenis te neem ná ’n klandestiene ondersoek van Julie 2018 tot November 2020.

Singo sê die polisie verwag om nog verdagtes aan te keer.

Die mans, wat in November in die hof verskyn het, word van onwettige mynbou­bedrywighede, geldwassery, korrupsie en diefstal aangekla.

Van hulle het volgens die polisie wettige ondernemings gebruik om geld wat hulle uit goudsmok­kelary gemaak het, te was.

Die Valke het ook beslag gelê op 23 voertuie ter waarde van R5 miljoen, ’n groot bedrag kontant, vuurwapens en toerusting waarmee goud verwerk word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.