Hy was ons kleinboet – ons het hom grootgemaak.
Só sê Melissa Labuschagne, wie se broer, Johann van den Heever (24), Sondagoggend vroeg in Welkom dood is.
Die voertuig waarin Van den Heever en ’n vriendin, Alishka Agrella, was, het in Stateway reg van voor teen ’n bus gebots.
Welkom se nooddienste moes spesiale toerusting gebruik om Van den Heever en Agrella uit die wrak te bevry voordat hulle gestabiliseer en na hospitale gebring is.
Van den Heever is in die Mediclinic Welkom se ongevalle-afdeling dood, terwyl Agrella in ’n kritieke toestand in die RH Matjhabeng-hospitaal opgeneem is.
Marissa Pawson, woordvoerder van die Mediclinic Welkom, sê Agrella is na dié hospitaal oorgeplaas en Maandagoggend geopereer.
“Ons was saam by die huis. Hy het nog so lekker vir iets gelag terwyl hy Marvel Comics op TV gekyk het,” sê Labuschagne.
“Toe sê hy hy gaan gou ’n vriendin iewers haal en is nou terug.”
Hy het haar met ’n soen en drukkie gegroet en gery.
Van den Heever, die laatlam van vier kinders, se pa, Johan, is in 1999 dood. Sy ma, Magda, is in 2004 dood toe hy sewe jaar oud was.
“Hy het ’n tatoeëermerk van ’n tier op sy arm gehad wat vir hom baie spesiaal was,” sê Labuschagne.
“By die tier was ’n slagspreuk, ‘Keep on fighting kid’, wat vir hom baie betekenis gehad het omdat hy sonder ons ouers moes grootword.”
Labuschagne sê haar huis is verskriklik leeg.
“Hy was my beste pêl. Ons het saam gebraai, hy was net altyd daar vir my. As ek ’n slegte dag gehad het, sou hy my opbeur en ’n vuur maak en my uit die kamer kom haal,” sê sy.
Hulle het graag saam musiek geluister en gedurig selfies geneem.
“Jy kan maar sê dit was een van ons stokperdjies.”
Labuschagne sê haar broer was gewild en het ’n hart van goud gehad. Hy sou altyd mense help en was ’n liefdevolle mens.
“Hy het graag in die gimnasium geoefen en potspel gespeel. Hy was ook passievol oor sy werk. Dit was vir hom baie belangrik.”
- Van der Heever word Vrydag om 15:00 vanuit die Lewende Water-gemeente in Milnerweg, Welkom, begrawe.