Tydens haar 44 jaar as een van die Goudveld se topmaatskaplikewerkers, het sy die behoefte gehad om ’n verskil te maak in die lewe van mense.
Vrystaat-Versorging in Aksie (VVA) in Welkom het onlangs afskeid geneem van Joline Delport, ná jare se diens.
Op haar afskeid-geleentheid het Joline gesê: “Ek is net mens.”
Sy het die eetgoed vir die geselligheid self gemaak.
Sy vertel dat sy op skool in gr. 10 tot bekering gekom het. Daarna het sy die behoefte gehad om ’n verskil te maak in die lewe van mense, en ná skool het sy haar opleiding aan die Hugenote-kollege in Wellington voltooi.
Omdat haar nooiensvan Burger is, was sy die eerste student wat die BDiac-graad in ontvangs geneem het.
As maatskaplike werker het sy mense en kinders in verskeie dorpe in die Vrystaat gedien. Haar eerste aanstelling was in 1980 in Allanridge.
Sy en haar gesin het in 2006 na Welkom verhuis.
“Hier in Welkom het sy diep spore gelaat in maatskaplike werk,” sê Joanita van Niekerk, van die VVA Welkom-tak.
“Daar is soveel verhale van seer en tog ook vreugdes wat sy met ons kan deel. Dit is beslis nie maklik om ’n maatskaplike werker te wees nie. Daar is die seer om kinders na ander huise uit te plaas. Dit was altyd vir haar ’n vreugde om mense te voed, klere uit te deel, na hul verhale te luister en dan met haar kundigheid ’n verskil te kon maak.”
Joline sê haar hart is vol vir elkeen wat deel was en is van die VVA se werk.
“Die VVA maak ’n verskil in Welkom.”
Joline en haar personeel is in 2020 aangewys as gesubsidieerde tak van die jaar. In 2023 is Joline aangewys as die beste maatskaplike werker in die Vrystaat.
“Joline, ons ken jou as ’n mense-mens. Dankie vir jou liefde, passie en harde werk,” het Joanita op die afskeidsgeselligheid gesê.
“Ons weet jou tyd saam met jou man, Piet, ’n diensleraar by NG kerk Bedelia, en as ouma van drie kleinkinders, gaan ’n fees wees. Wat jy aanpak, is met soveel toewyding en vreugde.
“Vandag wil ons jou eie woorde vir jou terug sê: Wees mens en geniet elke oomblik. Jy is vir ons baie kosbaar.”