Janrich (3) en Estienne (7) Bruwer

Met Kersfees wat om die draai is, het BloemNuus met ‘n paar van sy jonger lesers gesels oor wat hulle graag vir Kersfees wil hê, en watter kant van Kersvader se soet-of-stout-lysie hulle gehaal het. Hier is wat hulle gedeel het.

Hané Steyn (8): “Ek dink ek was soet, ek is nooit stout nie. Behalwe vandag, want ek het my vinger gebrand omdat ek nie geluister het nie.” Oor wat sy graag vir Kersfees wil hê, sê sy: “Acrylic markers, nog ‘n Stanley, en dat my oupa Abe wat dood is moet terugkom.”

Lexi Smith (10): “Ek soek bitter graag ‘n stel inkleurkoukies, wat net by een winkel te koop is.” Hoewel sy reeds vier stelle daarvan het, is hierdie stel anders. Haar ma sê sy was heel jaar uitstekend soet – van Maandag tot Vrydag. Naweke word die ore en maniere gebêre vir die volgende week.

Coenie Smith (5): “Ek wil nog altyd ‘n transformer kar hê wat kan vlieg en ry en op water kan ry.” Coenie is altyd sy ma se soetste (en enigste) seuntjie en kan nooit iets verkeerds doen nie. Die skuld word altyd geskuif na ousus (Lexi), al was sy nie daar nie.

Issie Smith (3): “Ek wil ‘n pop hê wat kan sing en dans en wat my gunsteling-liedjie kan speel.” Issie se ore is darem heel week aan die werk, behalwe wanneer sy vir kos vra en eintlik koekies soek – dan kan sy niks hoor nie. Haar woord is dan wet.

Amorey Oosthuizen (8): “Ek wil graag roller blades hê. Ek was baie soet die jaar omdat ek goed gedoen het by die skool en altyd na juffrou luister.” Haar ma dink egter dat dit by die huis kan beter gaan. Amorey wil jammer sê aan haar sussie, Abigail, omdat sy haar so baie keer kan irriteer.

Abigail Oosthuizen (6): “Ek wil ook roller blades hê. Ek was ook baie soet die jaar,” sê sy, maar sy weet nie lekker hoe om dit te staaf nie. Sy weet net sy was soet, ook meer by die skool as by die huis. Sy wil graag vir sussie Amorey jammer sê dat sy so vinnig vir haar kwaad word. “Ons twee sussies belowe ook vir Mamma en Pappa dat ons meer soet sal wees volgende jaar, veral by die huis, maar eers volgende jaar.”

Annabelle Koller (8): “Ek wil graag ‘n Stanley vir Kersfees hê. Ek hoop nie Kersvader gaan vir my kool gee om te eet omdat ek partykeer ‘n bietjie stout was nie.”

Ivan Britz (11): “Ek soek graag ‘n Play Station 4 en ek is jammer dat ek mamma se pot gebreek het.”

Dylan Britz (9): “Kersfeesvader moet vir my ‘n rugbybal bring. Ek is jammer dat ek heeljaar met my boetie baklei het.”

Kaira Strydom (8): “Ek wil ‘n smart watch for kids hê, maar my pa kyk nou eers of ek ‘n ander horlosie die heeltyd dra voor hy oorweeg dat ek dalk een kan kry. Ek wil ook graag nog Lego-stelletjies hê, veral die een met die hasie, want ek hou baie van Lego bou. Ek was ook nogal soet, maar ek vergeet net die heeltyd om my skoene in my kas te bêre, en dit maak my ma ‘n bietjie kwaai.”

Estienne Bruwer (7): “Ek wil ‘n drift car hê en headphones wat kan sing en ek soek ‘n .22-geweer. Ek dink ek was stout, maar ek kan môre chocolate kry, maar my boetie kan nie, want hy het môre se chocolate klaar geëet.

Janrich Bruwer (3): “Ek soek ‘n motorphone wat iemand bel. Ek was soet, ek dink my boetie was stout. Ek was glad nie stout nie.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article