Het jy al ’n lykswa met ’n venter sleepwaentjie gesien? Ek ook nie, maar kom ek verduidelik.
In Lukas 12 kry ons die gelykenis van die ryk dwaas.
Die boer word geseën met ’n oes wat alle verwagtings oortref.
Soveel so dat hy sy skuur moet afbreek en groter skure bou. Hy is so in sy noppies dat hy heeltemal vergeet waar kom dit alles vandaan en hy klop homself op die skouer. Nou kan ek agteroor sit en die lewe geniet. God noem hom egter ’n dwaas, want in alles wat hy bymekaar gemaak het, het hy nooit God se hand gesien nie – daarom sal hy alles verloor. Trouens, hy sal daardie nag nog sterf.
En dan gaan Jesus verder met die woorde in vers 31: “Beywer julle vir God se Koninkryk dan sal Hy julle ook al die ander dinge gee.” Wat veral diep tref is vers 33: “Skaf vir julle ’n beurs aan wat nie leeg raak nie, ’n onuitputlike rykdom in die hemel.”
Dit lyk vir my ons het in die Goudveld en in ons mooi land heeltemal die pad byster geraak.
Baie mense, selfs gelowiges laat hulle lewens draai rondom aardse ryksom, besittings en ’n selfsugtige omgang met tyd.
Mense leef met die idee dat alles aan hulle behoort. Dit is hulle geld, hulle besittings en hulle tyd, terwyl Jesus in Lukas 12 eintlik sê: alles behoort aan Hom. Psalm 24:1 sê dit direk: “Alles behoort aan die Here.”
Miskien het dit tyd geword dat ons besef niks wat ons is, of besit, is ons eie nie. Die oomblik as ek begin leef vanuit die perspektief dat alles aan die Here behoort gaan ’n paar goed gebeur.1. Ek gaan ophou “worry” oor alles. 2. My vrees en bekommernis gaan vervang word met diep innerlike vrede en vreugde.3. Ek gaan gee. My liefde, my tyd, geld, my vergifnis, my alles.
Dit is hoe ek besig is om ’n beursie in die hemel aan te skaf wat nie leeg raak nie.
Dit gaan nie meer oor my nie, maar ek soek die Koninkryk van God bo alles. Deur te gee ontvang ek oneindig soveel meer.
Lukas 12:34 konfronteer ons met die vrae: Wat is ons skat en waar is ons hart?
As ons skat by wêreldse dinge is – dan is ons hart daar en dit word sigbaar in hoe ons leef. Ons is kwaad as die lewe nie gebeur soos ons dit wil nie.
Maar as my skat by Jesus Christus is, dan is my hart ook daar. En weer word dit sigbaar in my doen en late. Ek leef met liefde, vrede en diep innerlike geluk.
- Ondersoek jou hart en maak seker dat jou skat en hart by Jesus Christus is. Soek die Koninkryk van God bo alles en Hy sal vir die res sorg.