Marti Will
Dit is nie aldag dat ‘n ma en haar vierjarige seun saam hul drome kan uitleef nie, maar dit is juis die ervaring van Lizandie en Jaen-Carlo van Deventer omdat hulle saam kon deelneem aan die Suid-Afrikaanse saalperdkampioenskapsbyeenkoms.
Die twee het van 21 tot 26 April in Bloemfontein aan die nasionale kampioenskap deelgeneem, en uitstekend gevaar.
Lizandie was met haar merrie, Hantam American Grace, in die kampioen amateur-enkeltuig (natuurlike maan- en stert-afdeling) vyfde en sesde, en
in die grootkampioen-amateur-enkeltuig-nommer het sy agtste plek gekry.

Jaen-Carlo, ‘n gr. RR-leerling aan die Riebeeckstad Pre-Primêre Skool, se droom is verwesenlik om uiteindelik aan die kampioenskap deel te neem.

“Hy en sy perd, Lexington Miss Danero, het hard geoefen om hul beste ‘hoef’ voor te sit, maar ongelukkig het sy die vorige dag baie siek geword en moes hulle haar uit die kompetisie onttrek.
“Inderhaas het ek ‘n plan gemaak vir ‘n perd sodat Jaen-Carlo kon skou,” sê Lizandie.
Adri Smit, ‘n saalperd-afrigter van Bloemfontein, het tot hul redding gekom en aangebied dat Jaen-Carlo met Universe Supreme kon deelneem.
“Dapper en vol selfvertroue, met Pappa Jaen van Deventer, het Jaen-Carlo, met ‘n wildvreemde perd, sy debuut gemaak.”
In die Leiriem-afdeling vir ruiters sewe jaar oud en jonger, het hy derde plek gekry, en in die kampioen-
afdeling het hy met vyfde plek weggestap.
“Dit was ‘n bitter uitdagende skou, met die reënerige weersomstandighede en met meer as 500 perde wat deelgeneem het.”
Die Van Deventer-gesin rig hul eie perde af en hou hulle op stal by die Unicorn Riding Club in Welkom.
You must be logged in to post a comment.