Kom ek val met die deur in die huis en vertel iets van my storie.
In 1995 studeer ek klaar en in 1996 moet ek aansoek begin doen vir beroepe.
Ek weet nie hoe en waar ek moet aansoek doen nie, so, toe doen ek maar oral aansoek en vertrou die Here om my te plaas waar Hy my wil hê. En daar is dit ’n baie klein plekkie in Namibië, Kalkrand.
Weg van ons familie en vriende amper soos ’n Abraham (lees Genesis 12:1), maar ons was ongelooflik gelukkig en die bediening goed geseënd.
Amper sewe jaar later roep die Here ons Okahandja toe in Namibië en weer beleef ons in ons gehoorsaamheid wonderlike seën.
En toe kom die Here en sê dis tyd om terug te kom Suid Afrika toe.
“Sjoe Here…dis dan so lekker in Namibië!?”
Maar ons kom en in 2007 vestig ons, ons in Riebeeckstad, hier in die Goudveld. Ek kan net uitroep: “Here wat ’n onbeskryflike reis!”
Ons kinders het hier skool gegaan en ons het seëning op seëning beleef in die bediening.
Hoekom vertel ek dit? Want as die Here jou roep om iets te doen, al is dit buite jou gemaksone en jy is gehoorsaam, dan maak Hy jou gelukkig in dit, en Hy seën jou uit jou sokkies uit.
Ons is weer in ’n volgende gehoorsame oomblik: Ja die Here het ons geroep na Wesselsbron. Opgewonde? Ja. Bang? Ja. Gehoorsaam? Ja.
In Handelinge 9:38 word Petrus gevra om gou oor te kom na Joppe – ek is nie Petrus nie en niemand is siek nie, maar vir ons was die teks deel van ons roeping nou na Wesselsbron.
Roeping en gehoorsaamheid is deel van elke gelowige se lewe.
Ons sien dit in Abraham, Paulus (Handelinge 9:1-6), Jeremia (Jeremia 1:4-8) en Jesaja (Jesaja 6:8) se lewens.
Vandag moet jy dalk begin om sensitief te luister waarvoor roep die Here jou? Dit kan by jou werk wees? Tussen vriende? Hy kan jou roep om onder die armstes van armstes te werk?
Hy roep jou om in jou gesin en huwelik te begin werk.
Die Here sal jou nie roep vir iets as Hy nie dink jy kan dit nie doen nie.
Jy hoef nie te dink jy kan dit doen nie – die Here alleen hoef te dink jy kan, en dan moet jy net gehoorsaam wees.
Dalk sit jy al jare en tob oor iets wat die Here op jou hart lê om te doen, dis roeping. Wees gehoorsaam.
Natuurlik is dit nie altyd maklik nie, dis baie keer buite jou gemaksone, baie uitdagings, maar as jy gehoorsaam antwoord gebruik die Here jou tot groot seën vir ander en jouself. Luister en wees gehoorsaam.