“Ek het die geweer gevat en wou haar skiet om haar uit haar ellende te verlos, maar toe kom sy na my aangekruip,” vertel Johan Lourens van Hennenman.

Lourens kon dit nie oor sy hart kry om die uitgeteerde, verwaarloosde brandsiek windhond van kant te maak nie en het aan sy vrou, Sharon, gevra of sy kans sien om die hond te versorg.

Lourens, wat voorheen geboer het en ook vervoerwerk gedoen het, sê hy en Sharon het agt jaar gelede vir Lucky op ’n plaas in die Blaauwdrift-omgewing naby Welkom in die veld gesien.

“Sy was net vel-en-been en het nie gelyk of sy sal oorleef nie,” sê Sharon.

Lourens was ontsteld omdat die hond so sleg gelyk het en het aan die plaaseienaar gevra of hy haar kan skiet sodat sy nie verder ly nie.

Op die ou end is Lucky in die egpaar se voertuig gelaai en na ’n draai by die veearts het ’n koninklike lewe in Allanridge op haar gewag.

Die Lourens-egpaar, diereliefhebbers soos min, het intussen na Hennenman verhuis waar hulle deesdae met hul kroos van 12 honde woon.

Op 7 Mei het Lucky, nou ’n grysaard, wat die meeste van haar tyd in haar hondehok deurbring, spoorloos verdwyn.

Sharon sê sy weet iemand het Lucky gesteel en glo dit was mense wat gedink het hulle kan met haar jag of haar gebruik om mee te teel.

Sharon en haar dogter, Lorraine van Zyl, het hul voete in Hennenman se strate deurgeloop op soek na Lucky.

Hulle het op veiligheidsgroepe foto’s van die hond geplaas en mense gevra om op die uitkyk vir haar te wees.

Sharon het vir Hennenman se munisipale vullisverwyderaars foto’s van Lucky gestuur en hulle gevra om haar te help om Lucky op te spoor.

Nege dae later, op 16 Mei, het een van dié werkers gebel en gesê hulle het Lucky in die Phomolong-township, sowat sewe kilometer buite Hennenman gesien.

Twee van die werkers het saam met Lourens en Sharon gery om Lucky te gaan haal.

“Lucky is nie die soort hond wat met haar hart op haar mou loop nie, sy is nie juis uitbundig nie, maar ons kon sien sy is bly om ons weer te sien,” sê Lourens.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025