Louis Massyn het op Sondag 2 Oktober die Detroit-marathon voltooi.Foto: Verskaf


Die Goudveld se eie marathon-koning, Louis Massyn, het sy derde marathon die maand voltooi.

Hy het op 2 Oktober die London-marathon voltooi, en ’n week later op 9 Oktober het hy die Chicago-marathon gehardloop.

Die afgelope naweek (16/10) het hy die Detroit Free Press/TCF Bank-marathon gehardloop.

Massyn is deur ’n hardloop-vriend in Detroit, Michel Groesbeek, na dié wedloop genooi.

Die roete het oor die Detroitrivier gegaan (oor die Ambassadors Bridge).

“Dit was ongelooflik om in Kanada te kon draf. Ons is toe weer terug deur die tonnel onder die rivier. Dit was ’n goed georganiseerde marathon. My tyd was net oor die vyf uur, die beste tyd van die drie marathonne wat ek die maand voltooi het, en ook ná my knie-operasie. Die knie voel goed. Hierdie was ’n ongelooflike ervaring in my roemryke hardlooploopbaan,” sê Massyn.

Die wedloopnommer 403 is aan Massyn toegeken.

“Groesbeek het dit gereël. Dié nommer is ook my Comrades-marathon nommer sowel as my ASA-nommer in Suid-Afrika.”

Die 42.195 km-wedloop word sedert 1978 elke Oktober in Detroit, Michigan, Amerika en Windsor, Ontario, Kanada gehardloop.

Dié marathonroete is internasionaal en kruis die Ambassadors Bridge en die Detroit-Windsor-tonnel tussen Detroit en Windsor.

Met die gebruik van die tonnel, kan die wedren daarmee spog dat dit die enigste amptelike onderwater internasionale myl ter wêreld is, aangesien die tonnel onder die Detroitrivier loop.

You need to be Logged In to leave a comment.