Die kragmeting tussen die Goudveld-Hoërskool en Bethlehem Voortrekkers op Voortrekker se sportvelde in Bethlehem het naelbyt-aksie en opwinding verskaf.

Die eerstespanwedstryde het almal die spanning hoog laat loop.

Voortrekker se span het dié hoofwedstryd getroef met ‘n eindtelling van 57 – 15. Die netbalmeisies se wedstryd was ook baie opwindend, en Voortrekker het 50 – 25 gewen.

Met die meisiehokkie het die eerste spanne gelykop gespeel met ‘n eindtelling van 2 – 2. In die eerstespanseunshokkie het Voortrekker vir Goudveld 2 – 0 geklop.

In die spanningsvolle eerstespanrugbywedstryd het Voortrekker met halftyd met 38 – 3 voorgeloop.

Die puntemakers was Wian Muller wat twee drieë gedruk het en Juhin Muller met twee drieë. Enkeldrieë is deur Wessel Hattingh, Adriaan Bonthuys, Christiaan van der Sandt, Karabo Ralethohlane en Renier van Niekerk gedruk.Edré Wille het ses doelskoppe aangeteken.

Voortrekker se eerste netbalspan het weereens beïndruk deur pragspel teen Goudveld te lewer.

Aan die einde van die eerste kwart was die telling slegs 10 – 9 in die tuisskool se guns, maar die Voortrekkerspan het van rat gewissel en na afloop van die tweede kwart het die telling na 24 – 14 opgeskuif. Met volgehoue dryf en skitterspel in die verdedigende sirkel, word die wedstryd 50 – 25 in Voortrekker se guns beklink.

Die verdediger, Sipho Msimanga, word aangewys as speler van die wedstryd en moet uitgesonder word vir haar volgehoue suiwer verdedigende spel. Spanwerk en slim skuiwe is sinoniem met Voortrekker se oorwinning.

Die meisies hokkie het ook vir oomblikke van trots en angs gesorg. Goudveld het die Trekkers keer op keer geblok. Hulle doelwag het ‘n wonderlike wedstryd gespeel, maar die Trekker-meisies het hul kalmte behou en die wedstryd met twee doele teen nul afgesluit.

Adriaan Bonthuys van Voortrekker. Foto:Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.