Antoinette Schoeman, Riebeeckstad:
Om mekaar te ondersteun maak die lewe die moeite werd.
Moederliefde is ’n wonderlike stof wat deur God vermenigvuldig word terwyl Hy dit verdeel.
Een oggend trek ek my tekkies aan, gryp my wandelstok en val in die pad, gerat om 10 km in Riebeeckstad en omgewing kaf te draf.
Ek stap heerlik. Mense groet my vriendelik en wil weet hoe dit met my gaan en of ek nie dalk ’n bietjie koeldrank of water wil hê nie. Wonderlike mense wat God elke dag op my pad stuur.
Op pad huis toe sien ek ’n vrou wat ’n vreeslike groot gevulde sak op ’n waentjie stoot.
Sy is besig om bottels en herwinbare artikels te versamel. Ek groet haar, en in pragtige Afrikaans wil sy weet hoe dit met my gaan.
Ons raak aan die gesels en ek hoor ’n babatjie huil. Sy rits haar groot sak oop en haal die mooiste drie maande oue meisie uit die sak, warm aangetrek, goed versorg en toegedraai in ’n snoesige kombersie.
Ek voel hoe die hartseer in my opwel en ek kan my trane nie keer nie. Ek kan God nie genoeg dankie sê vir die twee mensies wat Hy op my pad gestuur het nie.
Sy vertel my hoe swaar hulle kry en hoe sy elke dag na herwinbare materiaal soek sodat sy ’n geldjie kan verdien om kos op die tafel te sit.
Skielik onthou ek van ’n tas vol babaklere wat my dogter vir my gegee het. Ek vra vir haar om in te kom en in die sitkamer te sit, want daar is iets wat ek vir haar wil gee. Ek maak rooibostee en kry een van die twee melkterte wat ek gebak het. Ons gaan nou aan een eet, en die ander kan sy huis toe neem.
Ons gesels so lekker en ek kom agter dat sy ’n ware engel van God op aarde is. Sy sorg vir haar suster se drie kinders, en dit is hoekom sy ekstra werk doen. Sy kry maandeliks ’n toelaag van Sassa.
Ek vertel haar van die klere, ’n pak lekkers, koekies en koeldrank wat ek vir haar wil gee. Sy bars uit in trane en hou my styf vas.
Hierdie mamma het diep in my hart gekruip.
Ek nooi haar om op Moedersdag by my fluweelkoek en rooibostee te kom geniet.
God vra van ons om ryk te wees in goeie dade, vrygewig en mededeelsaam. Dit is die dinge wat as goeie belegging vir die ewige lewe sal dien.