Lees ’n mens die vroeë getuienis rondom Jesus se opstanding en sy verskyning is dit opmerklik dat dit vir sy volgelinge onverwags was.
Dit, ongeag dat daar herhaaldelik vir hulle vertel is dat Hy ná drie dae sal opstaan. Die vroue besoek die Sondagmôre die graf om sy liggaam met reukolie te salf. So herken Maria nie vir Jesus nie; sy dink hy is die tuinier.
As die vroue vir die dissipels van sy opstanding vertel, gaan Petrus self graf toe om seker te maak. Die Emmausgangers herken hom nie. Thomas glo nie dat dit Jesus is nie.
Jesus se volgelinge was nie mense wat maklik in die opstanding geglo het nie. Dit sou eers ná die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag wees dat Petrus in Hand. 2:32 verklaar: God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan; daarvan is ons almal getuies. Daarna word telkens in Handelinge berig hoe die apostels kragdadig van die opstanding getuig het.
Glo jy in die opstanding van Jesus? Besef ons wat dit beteken dat Hy opgestaan het?
Die antwoord het vele kante, maar die belangrikste is dalk in Ef. 1:19. Paulus bid: Die gelowiges sal besef hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek het . . .”
God is kragtig in en deur ons aan die werk. Dit vra soms fyn kyk om dit in die deurmekaar wêreld raak te sien. Wie hierdie kragtige werking van God in sy lewe begin ervaar, kan bely: Christus het waarlik opgestaan!