Ds. Domonic Basson (tweede van links) is op 27 Maart by die NG kerk St. Helena bevestig. Saam met hom is van links Johan Basson (sy pa), Erna Basson (sy ma), Lunette Visser (sy verloofde), Nelia Visser (Lunette se ma) en Bart Visser (Lunette se pa). Foto: Verskaf


Die NG kerk St. Helena in Welkom het ’n nuwe leraar.

Ds. Domonic Basson is oorspronklik van die Oos-Kaap en is in Gqeberha gebore.

Hy het in die Oos-Kaap grootgeword en het later jare na Bloemfontein verhuis, waar hy sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool President Brand voltooi het. Hy het aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein matriek geskryf.

In 2016 het hy met sy teologiese studie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) begin, en hy het jaarliks met onderskeidings gespog.

In 2021 is hy en sy verloofde, Lunette Visser, altwee gelegitimeer, en Basson is aan die begin van 2022 na St. Helena-gemeente beroep.

Basson het tydens sy studies verder Grieks en Hebreeus geleer en het ook van sy tweede jaar af by die departement Hebreeus as ’n studente-assistent, tutor en akademiese fasiliteerder gewerk.

Hy is besig met ’n honneursgraad in Hebreeus en beplan om in 2023 met sy meestersgraad in Hebreeus te begin. Hy het dus nie net ’n liefde vir Bybelse tale nie, maar ook vir die vakgebiede van die Ou Testament en die Nuwe Testament.

Basson sê hy sien uit na die pad wat hy saam met die gemeente van die NG kerk St. Helena gaan stap.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025