Die Desember-vakansie kan vir sommige kinders nogal lank word. Gelukkig is daar ’n groot verskeidenheid wonderlike kinderboeke beskikbaar wat hulle ure kan besig hou.
Hier is ’n paar boeke wat onlangs verskyn het en dalk net ’n oulike idee is vir ’n jong tiener se Kerskous:
Die Sproetebessies en die skedel in die spookmis deur Troula Goosen
Die Sproetebessies moet spaar vir ’n reis na Italië en kry vakansiewerk op die luukse gasteplaas Spookkuil. Hulle bly in ’n boomhuis, wat na hul mening gans te naby is aan die spokerige kuil waarna die plaas genoem is.
Mosela en die drie koninkryke deur Luke Calder
Wanneer Mosela se dorpie deur seerowers en hul angswekkende nuwe wapen vernietig word, pak die jong meerkat ’n gevaarlike reis aan om die Muiskoning te waarsku.
Skool vir talente – Tweede periode: Kragonderbreking! deur Silke Schellhammer
Die skool vir talente is vir almal wat ongelooflike dinge kan doen en van vorm kan verander. Hulle kan met diere kommunikeer en water beheer. Lees oor Alva se skool wat ’n filmkompetisie hou en help om ’n groot raaisel op te los.
Die Afrikaanse vertaling van dié boek, oorspronklik in Duits, is deur Human en Rousseau uitgegee.
Speurhond Willem in die Amasone deur Elizabeth Wasserman
Dié is die negende avontuur van Adriaan en Willem wat geheime agente vir die Internasionale Speurdiens is. Hierdie keer moet hulle ’n geografie-taak in die Amasone gaan doen, maar dinge bly nie eenvoudig nie. ’n Geslepe vyand is op hul spoor. . .
Die emmerskoplys deur Heléne de Clercq, een van die boeke uit die reeks Best Books vir klaslees.
Wat lyk na ’n vervelige skoolvakansie verander in ’n oogwink toe Krummer, die Great Dane, en Ouma Katie in Pa se lugballon vertrek om avonture op Ouma se emmerskoplys af te merk.
Die Seerowers en Kaptein Rufus Rottus deur Jonny Duddle
Dié boek is oorspronklik in Engeland uitgegee en vanjaar in Afrikaans vertaal.
Matilda word een oggend wakker en sien Grootgaapbaai is met rotte besmet. Gelukkig bied ’n vreemde seerower met ’n towerfluit hulp aan, maar: Red hy die dorp of gaan Matilda, Basjan en die Van der Branders die dorp moet hulp verleen?