’n Ouer se gesindheid teenoor wiskunde word direk aan sy of haar kinders oorgedra. Dit kan veroorsaak dat ’n kind bang vir die vak word, en nie selfvertroue het om te probeer nie.
Afrikaans.com gee riglyne oor wat ouers en onderwysers kan doen om kinders van kleins af nuuskierig te maak oor die wonder van getalle sodat hulle vroeg al syfers met selfvertroue sal aanpak.
Die kind moet glo hy kan
- Die kind wat glo hy kan iets doen, het meer selfvertroue en sal meer geneë wees om te probeer. Daarom is dit belangrik om die kind se sterkpunte uit te lig, want dit help om sy selfvertroue te versterk wat sal help om wiskundige vaardighede baas te raak.
- Verseker hulle dat dit oukei is om nie die eerste keer reg te wees nie en dat hulle weer kan probeer. Op dié manier word die kind subtiel gelei om anders of logies te dink om by die antwoord uit te kom.
- Moenie die kind verkleineer nie – dit is ’n ouer en opvoeder se taak om ’n kind te koester en hul selfvertroue te versterk – nie om die kind af te breek nie.
- Verduidelik hoekom wiskunde ’n belangrike lewensvaardigheid is en dat ’n mens dit elke dag oral en op verskillende vlakke gebruik. Dink maar net aan wanneer ’n mens jou maandelikse begroting moet uitwerk, of wanneer jy ’n beroep beoefen en daar van jou verwag word om wiskundige beginsels toe te pas op onder meer grafieke en diagramme om ‘n verslag te skryf.
- Let op jou kind se leesvaardigheid, want leesvaardigheid en wiskunde gaan saam. Om met selfvertroue en met begrip te kan lees, dra by tot jou kind se getalbegrip. Die kind moet die wiskundevraag met begrip kan lees om te weet watter stappe om te volg om by die antwoord uit te kom.
Hoe kan ouers en onderwysers help
- Dit is belangrik dat die ouers en onderwysers saamwerk en dat die ouers op hoogte gehou word met waarmee die kind in die klas besig is. Sodoende kan die ouer die werk tuis versterk. Sê vir jou kind: “Verduidelik vir my waaroor gaan dit.” Die kind herhaal vir die ouer wat hy geleer het. Versterk begrippe deur daaroor te praat, en bespreek hoe wiskunde in ons wêreld gebruik kan word.
- Maak wiskunde pret en realisties. Dink aan ander innoverende maniere om die vak aan te bied.
- Dit is belangrik om vas te stel waar die gaping in die kind se kennis van wiskunde lê en dan ’n stappie terug te neem om op ’n konkrete vlak die kind te help om dit op daardie vlak te bemeester.
Hendrik de Kock, Wolkskooldosent by die Skoleondersteuningsentrum, gee die volgende wenke om ’n liefde vir wiskunde by jou laerskoolkind te kweek:
1. Taal en wiskunde gaan hand aan hand, daarom is dit belangrik om die onderrigtaal goed te verstaan (dink hier aan moedertaalonderrig), sodat die kind wiskundige begrippe soos groter as en kleiner as sal verstaan.
2. Vestig getalbegrip. Om die kind slim metodes of truuks te leer om wiskunde aan te leer, word afgeraai, want begrip is die belangrikste.
3. Fundamentele en basiese wiskunde. Dis belangrik om die basiese reëls te ken, soos volgorde van bewerkings en vermenigvuldigingstafels.
4. Hulpmiddele. Gebruik telrame, albasters, blokkies, ens.
5. Wys op toepaslikheid. Wiskunde is oral om ons, bv. in resepte as ’n mens kosmaak en hoeveelhede moet afmeet, om tyd en afstand aan te dui, om kombinasies van byvoorbeeld tyd en afstand aan te dui (hoe ver kan ek ry as ek drie ure teen 60 km/h ry, ens.).
6. Speel wiskundespeletjies. Dit maak die aanleer van wiskunde prettig. Speel bordspeletjies soos ludo en slangetjies-en-leertjies. Gebruik jou verbeelding – daar is soveel dinge rondom ons wat getel kan word.
7. Gebruik die beskikbare tegnologie tot jou kind se voordeel. Laat hulle toe om wiskundespeletjies op die rekenaar te speel.
8. Vergeet van reg en verkeerd. Fokus liewer op logika om by die korrekte antwoord uit te kom. Dit kweek kritiese denke en probleemoplossingstrategieë.
9. Let op jou woorde om ’n wiskunde-selfbeeld te bou. Hou dit positief, m.a.w. sê: “Wiskunde is lekker en groot pret!” Moenie etiketteer deur byvoorbeeld te sê dat wiskunde net vir “slim mense” is nie. Moenie die onderwyser afkraak nie. Waak ook daarteen om jou kind te veel te prys, want glo dit of nie, so ’n kind kan uiteindelik ’n vrees ontwikkel vir mislukking. Gesonde aanmoediging word aanbeveel.
10. Word wiskundig fiks. Maak seker jou kind weet dat dit harde werk verg om te presteer. Ons weet dit is goed om elke dag vir ons kinders voor te lees – net so is dit ook belangrik om elke dag wiskunde saam met jou kind te doen.