Rudolph Cloete, eertydse skoolhoof van Welkom-Gimnasium en alombekende in die onderwys- en atletiekkringe, se naam is vir ewig in die geskiedenisboeke van Welkom aange- teken. Foto: Verskaf

‘n Formidabele man wat diep spore in sy gemeenskap getrap het.

Dít is hoe Rudolph Cloete, eertydse skoolhoof van Welkom-Gimnasium en alombekende in die onderwys- en atletiekkringe beskryf word.

Cloete is Dinsdag 13 Mei op 72-jarige ouderdom oorlede.

Hy is in 1990 as adjunkhoof van Welkom-Gimnasium aangestel. Slegs twee jaar later trek hy die baadjie as skoolhoof aan. Hy dien die skool vir 21 jaar, tot en met 2012, in hierdie hoedangheid.

Sy leierskapvaardighede word verder beklemtoon deurdat hy vanaf 2001 tot 2011 gedien het as die voorsitter van die Goudveldse vereniging vir skoolhoofde.

Die talle Suid-Afrikaanse kampioene wat Cloete in verspring en driesprong opgelewer het, het van hom een van die beste atletiekafrigters in die land gemaak.

Tydens sy afrigtingsjare (1978 tot 2020) het die afrigtersvereniging begin om jong onderwysers toe te rus om af te rig.

Cloete was een van die stigterslede van die Barkhuizen-Trust en was vir 26 jaar ‘n Vrystaatse hoërskool-atletiekspankeurder.

Met sy aftrede was Cloete altesaam 37 jaar in die onderwys.

As ‘n Christen met sterk morele waardes was hy tot onlangs ook betrokke by die Goudveldse kinderwelsyn.

Sy skoonseun, Martin du Plessis, sê sy skoonpa se advies aan hulle was: “Jy moet altyd iets benader ‘ten spyte van’ in stede van ‘as gevolg van.’ ”

‘n Liefdevolle familieman en ‘n uitstekende pa – dit is hoe sy kinders hom onthou.

In ‘n herdenkingsboodskap op Facebook het Welkom-Gimnasium geskryf: “Ons wat agterbly pluk die mooi vrugte van sy arbeid en onwrikbare geloof. “Hy het onomwonde aan God geglo en die potensiaal in sy medemens raakgesien. Ons koester die mooi herinneringe en sy woorde sal altyd weerklink: ‘Daar is net een skool – en dit is my skool.’ ”

Cloete was ‘n wewenaar. Sy geliefde vrou, Elbè, is op 65-jarige ouderdom in November 2018 oorlede.

Die egpaar is op 10 April 1967 in Clocolan in die eg verbind.

Cloete laat sy drie dogters (Elizma du Plessis, Rudine Diedericks en Simoné Cloete), sy skoonseuns (Martin en Christiaan Diedericks) en vier kleinkinders (Leané du Plessis, Jan-Franco du Plessis, Amoné Diedericks en Christiaan Diedericks) agter.

Sy troosdiens vind plaas op Vrydag 23 Mei om 11:00 vanuit die NG Kerk Welkom-Suid.

You need to be Logged In to leave a comment.