Jesus gee vir ons riglyne hoe ons kommer in ons lewe moet hanteer.
“Ek het vir julle ’n voorbeeld gestel, en soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook nou doen.” (Johannes 13:15)
Is kommer nie deel van ons lewe nie?
Ons geldsake is nie reg nie, my gesondheid raak ’n krisis in my lewe, ek beleef die dood van mense rondom my en ek sukkel om dit te hanteer.
Bekommernisse bring skeiding tussen my en die Here, asook teenoor mense rondom my. Hierteenoor staan vertroue in geloof wat genade is. Geloof is die pad waarop God jou stuur om te loop.
Geloof is die pad van tree vir tree omdat jy weet Jesus het reeds my pad gestap.
Met my geloof weet ek dat ek nie alleen op die pad is nie.
My geloof gee vir my hoop om in my omstandighede te volhard. Hoop maak ons lewenspad die moeite werd.
Jesus nooi ons in Mattheus 11:28 uit waar geskryf is: “Kom na My toe, almal wat moeg en oorlaai is en julle sal rus vind. Verder neem My juk op en leer van My.”
Om Jesus se juk op te neem en by Hom te leer, is om rus in Hom te vind. Jesus leer ons van geloof, hoop en liefde.
Leef Jesus se liefde en beleef Jesus se genade in jou lewe. Jesus het Sy dissipels geleer sodat hulle met vertroue en nie met kommer leef.
Jesus wil ook vir ons leer om sonder kommer te lewe.
In Psalm 46:11 lees ons om stil te word en om te erken dat die Here jou lewe is.
As die Here my lewe is en dit beheer, waarom dan die kommer?
Is die kommer nie ’n teken van wantroue omdat ek in beheer van sake wil wees nie?
Sal ek die Here kan vertrou met ’n onbekende pad van my lewe?
Sal ek die Here wil beïndruk van hoe ek dinge vir Hom wil doen of sal ek eerder vandag sê: “Ek neem my juk op en ek dra die kruis van Jesus.”
Kyk weg van jou kommer en raak by ander se lewe betrokke, en weet die Here is in beheer van sake.
Bid elke dag dat die Here jou sal help om Sy volgeling te wees wat weet dat Hy in beheer van jou lewe is. – Ds. Philip McLaren, leraar aan die NG kerk Bedelia