After the Storm/Na die Storm, ’n nuwe reeks skilderye, is ’n goeie voorbeeld van Marí Strydom se kunswerke.
Strydom, bekend onder Dragonfly Art, was van kleins af by kuns betrokke.
Op ’n jong ouderdom het sy reeds besef kuns is haar wêreld.
Sy het in 2014 ernstig begin skilder, en gebruik graag akrielverf op doek.
“Ek skilder wat ek voel; wat binne my is,” sê Strydom.
“In my skilderye is daar baie klem op die weer en wolke, en ek hou daarvan om woestyntonele te skilder.”
In 2015 het sy saam met ’n paar kunstenaars in die Ernest Oppenheimer-skouburg in Welkom haar eerste uitstalling,Art-Beat of Central South Africa, aangepak.
“Ek was ook deel van die New Breed–kunstenaarswat jaarliks by die Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein aan ’n groot kunskompetisie deelneem,” sê sy.
“ ’n Hele paar van my skilderye is in die buiteland en oor Suid-Afrika heen. Baie van my werke is ook in galerye en private versamelings in plekke soos Lydenburg, Bethlehem, Klerksdorp, Johannesburg, Bloemfontein en Pretoria te sien.”
Volgens Strydom is Art-Beat in 2015 begin om onbekende kunstenaars van oor die land heen ’n geleentheid te bied om saam met bekende kunstenaars uit te stal.
“Dit wys ook kuns wat baie min mense te sien kry. ’n Mens weet nooit wie jou werk raaksien nie, en hierdie uitstalling bied so ’n geleentheid aan kunstenaars. Kuns is iets wat alle kulture bymekaar bring. Daar is ’n kunstenaar in elkeen van ons.”
Plaaslike kunstenaars, onder leiding van Strydom, beoog ’n klein uitstalling teen einde Oktober.
“Ons glo Art-Beat sal in 2023 terug wees, en groter as tevore. Ons wil dit weer by die Ernest Oppenheimer-skouburg hou,” sê sy.
Strydom is ook nou betrokke by die Laerskool Koppie Alleen in Riebeeckstad.
“Ek gee kunsklasse vir gr. R- tot gr. 3-leerlinge en bied in die middae buitemuurse kunsklasse aan,” sê sy.
“Ek bied ook elke maand ’n kunsaand vir volwassenes aan.”
- Vir Strydom se volgende kunsaand, wat op 28 Mei aangebied word, moet belangstellendes voor Maandag (23/05) bespreek. Om meer oor die plaaslike kunskultuur en kunstenaars uit te vind kan mense Strydom by 079-046-0554 bel.