Die Kroonstad-gemeenskap in die Moqhaka-munisipaliteit spreek toenemende kommer uit omdat ’n kerkgebou wat aan ’n munisipale amptenaar verkoop is, omskep word in studenteverblyf.
Die rekonstruksie neem plaas sonder die nodige bouplanne en hersonering van die eiendom. Ten spyte van verskeie klagtes wat deur bekommerde inwoners ingedien is, het die munisipaliteit se gebrek aan reaksie vrae laat ontstaan ??oor die moontlike betrokkenheid van munisipale amptenare,” sê Marelize Boeije, DA-raadslid.
Sy sê die skielike omskepping van dié kerkterrein in studentebehuising het baie inwoners verward en moedeloos gelaat, want dit blyk te gebeur sonder nakoming van gevestigde regulasies.
Inwoners het die afwesigheid van enige bouplanne wat aan die publiek beskikbaar gemaak is en ’n opvallende gebrek aan kommunikasie rakende die hersonering van die eiendom, aangemeld.
Boeije sê dit het gelei na groeiende spekulasie oor die deursigtigheid en wettigheid van die projek. Sy sê geen publieke deelname het plaasgevind nie. Die gemeenskap verdien om toegang tot die besonderhede van só ’n ontwikkeling te verkry.
“Daar was egter tot op hede geen amptelike reaksie van die munisipale owerhede nie, wat inwoners laat wonder of die stilte aanduidend is van ’n kwessie binne die munisipaliteit self,” sê sy.
“Ons doen ’n beroep op ’n onmiddellike hersiening van die projek, en doen ’n beroep op die munisipaliteit om die gemeenskap se bekommernisse aan te spreek en ’n duidelike en openbare weergawe van die betrokke prosesse te verskaf.