Die Noord-Vrystaat vier fees nadat ‘n boer uit die Kroonstad-distrik vanjaar as die nasionale Lamb Champs-kampioen gekroon is.
Hennie Jonker van Zorro Hampshire Down-stoetery buite Kroonstad het die afgelope naweek die trofee omhoog gehou toe hy as die nasionale wenner in die bekende kompetisie aangewys is.
Dit nadat hy begin September in Parys die streekswenner in die komptisie was. In die nasionale kompetisie het hy teen drie ander veeboere meegeding en het R50 000 as prysgeld gewen.
“Dit is slegs die Here se genade en my gesin se volhoubare ondersteuning wat die wen moontlik gemaak het. Ons is so dankbaar en dit is verseker lekker om te sien as jou harde werk beloon word,” sê Hennie.
Tydens die Lamb Champs-streekskompetisie wat in Parys plaasgevind het, het Hennie nie net die prys vir die beste skaap op die spit gewen nie, maar het hy het R30 000 vir ‘n enkele lamskarkas gekry. Dit is die hoogste prys vir ‘n enkele lamskarkas wat vanjaar in die land betaal is.
“Die feit dat Hampshire Down-ras oor goeie vleis beskik wat smaaklik, sappig, sag en met baie goeie marmering, – maak dit ‘n besonderse gewilde vleissnit,” sê Hennie.
Vanjaar is daar 266 lammers van oor die land heen gespit tydens die gewilde Lamb Champ-kompetisie. Die nasionale kampioenskappe het by die Nampo Alfa-skou by Nampopark buite Bothaville van 16 tot 18 Oktober plaasgevind.
Die Lamp Champ-televisiereeks se tweede seisoen sal teen einde 2025 klaar verfilm wees en behoort volgende jaar Junie op die televisie uitgesaai word.
Die Jonkers het verlede jaar het ook as die Sernick-boereworskampioene in Kroonstad weggestap. Sernick Butchery & Deli in Kroonstad het die gesin se wenwors vir ‘n jaar verkoop, waarvan ‘n gedeelte van die opbrengste aan Huis Edelkroon vir bejaardes in Kroonstad geskenk is. Vanjaar op Braaidag het hulle weer deelgeneem en het met die tweede plek weggestap.

Almal in die Jonker gesin is betrokke by die boerdery. Die gesin boer vir die afgelope ses jaar buite Kroonstad.
Liza-mari sy vrou wat ook ‘n voltydse onderwyseres in Kroonstad is, het ‘n volskaalse hoenderboerdery op die plaas en het ongeveer 1200 lê-henne. Hul 10-jarige seun Liam, boer met Damara-skape en hul dogter Miané (8) met boerbokke.
Hulle gedeelde liefde en passie vir boerdery asook vir diere en die natuur is tasbaar en hulle geniet elke oomblik daarvan om saam te boer.




You must be logged in to post a comment.