Krisis kort verklaring

Vir Riebeeckstaders wat al ses weke sonder water is, en omliggende gebiede soos Odendaalsrus en Hennenman wat elke nag van 18:00 tot 06:00 beurtwater moet verduur, het dit nou ’n hopelose situasie geword.

Armand Cloete van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) sê die minister van water en sanitasie, Senzu Mchunu, moet Riebeeckstad besoek en verduidelik hoekom die woonbuurt geen water het nie


Vir Riebeeckstaders wat al ses weke sonder water is, en omliggende gebiede soos Odendaalsrus en Hennenman wat elke nag van 18:00 tot 06:00 beurtwater moet verduur, het dit nou ’n hopelose situasie geword.

Inwoners is keelvol. Verlede week het Riebeeckstaders in die straat voor ’n inkopiesentrum ’n vreedsame protes gehou. Die polisie het hierdie byeenkoms met skokgrenate uitmekaargedryf.

Woensdagoggend (15/02) was daar protesoptrede in Kutloanong, en inwoners het die strate met brandende bande en rotse afgesper.

Inwoners van ander gebiede dreig nou ook met protesoptrede.

Armand Cloete van die Vryheidsfront Plus (VF Plus) sê die minister van water en sanitasie, Senzu Mchunu, moet Riebeeckstad besoek en verduidelik hoekom die woonbuurt geen water het nie.

“Mchunu het die Matjhabeng-munispaliteit in November besoek en was tevrede met, soos hy dit gestel het, “goeie vordering” wat gemaak is met die uitdagings rondom water en sanitasie in die munisiplaiteit.

“Mchunu was toe reeds uit voeling met die realiteite wat inwoners van Matjhabeng se gemeenskappe daagliks ervaar,” sê Cloete.

Inwoners van Riebeeckstad se griewe is regverdigbaar. Die munisipaliteit en veral die burgemeester, David Kalipha, wat Mchunu tydens sy November-besoek vergesel het, het geen kommentaar gelewer nie.

“Inwoners het wettige meganismes nodig om hul griewe te laat hoor. Riebeeckstad se waterkrisis is egter verby die punt waar politici luister, maar geen verandering bring nie. Daar moet nou daadwerklik opgetree word. Krisisbestuur is nie genoeg nie,” sê Cloete .

Die VF Plus het Mchunu amptelik uitgedaag om Riebeeckstad dringend te besoek.

Cloete sê Riebeeckstad se inwoners verdien nie die tekort nie, en die enigste oplossing is om van die regerende party ontslae te raak.

Nadat die watertoevoer na Odendaalsrus en Kutloanong Dinsdagnag onderbreek is, het Riebeeckstad Woensdagoggend weer water gehad.

Dr. Igor Scheurkogel van die DA sê niemand by die munisipaliteit het antwoorde vir waarom die reservoirs in Riebeeckstad se vlakke nie wil verbeter nie.

“Woensdagoggend was daar wel water in Riebeeckstad, want die vlakke kon oornag verbeter nadat die munisipaliteit beurtwater in Odendaalsrus toegepas het. Maar hulle kon eers ná 07:00 Odendaalsrus se watertoevoer herstel, want die inwoners van Kutloanong het reeds 04:00 die oggend begin bande brand en protesteer oor die water wat af was,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.