Krisis byna opgelos

“Dit is ontstellend dat waterbesoedeling skynbaar nie vir die Nala- plaaslike munisipaliteit ’n prioriteit is nie, maar ons is dankbaar dat daar eindelik iets aan die riool-invloei uit Brandstraat in die Valsrivier gedoen is.”


Die einde van die rioolprobleme in Bothaville is eindelik in sig, nadat die Bothaville-tak van AfriForum twee jaar lank druk op die Nala- plaaslike munisipaliteit uitgeoefen het.

Die onderskeie politieke partye in die dorp en ander instansies het die saak versterk deur ook druk op die munisipaliteit te plaas.

Die aanbring van ’n pyp wat riool van Brandstraat na die rioolaanleg moet neem sal verhoed dat riool in die Valsrivier beland. Die werk hieraan is amper klaar.

Die munisipaliteit se kontrakteurs het in Oktober 2021 hiermee begin.

AfriForum het Donderdag (03/03) inspeksie op die terrein gaan doen en vermeld dat daar nou geen riool in die rivier invloei nie.

AfriForum het die munisipaliteit egter gemaan om toe te sien dat dié gebied en Brandstraat gerehabiliteer word sodra die werk voltooi is.

Die tak beoog om nie die druk te verslap nie, aangesien daar ook by Kgotsong ’n invloei van riool in die Vals­rivier is wat uit die weg geruim moet word.

Die munisipaliteit het reeds aangedui dat hy ook aandag daaraan gaan skenk, maar daar is nog geen verbetering aan die situasie nie en die rivier word steeds besoedel.

Die tak het die Nala-munisipaliteit nou op terme geplaas om die besoedeling aan te pak, anders sal AfriForum dit doen en die koste van die munisipaliteit verhaal.

“Dit is ontstellend dat waterbesoedeling skynbaar nie vir die Nala- plaaslike munisipaliteit ’n prioriteit is nie, maar ons is dankbaar dat daar eindelik iets aan die riool-invloei uit Brandstraat in die Valsrivier gedoen is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Ons waardeer dat die politieke partye ook druk op die munisipaliteit uitgeoefen het oor die probleem, en dit is weer ’n bewys dat die gemeenskap moet saamstaan om probleme op te los.

“Ons doen ook ’n beroep op ander instansies om met ons hande te vat sodat ons die probleem saam kan aanpak.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.