Suid-Afrika staar nog 18 maande van gereelde kragonderbrekings in die gesig totdat voldoende opwekkingskapasiteit by die elektrisiteitsnetwerk gevoeg is, het Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, gesê.
“Ons het nog ’n jaar of ’n jaar en ’n half nodig om hieruit te kom,” het Oberholzer Donderdag by die Agri SA-konferensie naby Johannesburg gesê.
Werk wat Eskom gedoen het om die land se energiekrisis te verlig, sal help dat die situasie nie so erg sal wees as wat dit kon gewees het nie, het hy gesê.
Tog kan dit vir die nutsmaatskappy nodig wees om ’n “moedige stap” te neem en sogenaamde fase 2-beurtkrag – waarin 2 000 megawatt van die nasionale netwerk gesny word – vir ’n lang tydperk te implementeer om Eskom in staat te stel om na die nodige onderhoud van gereedskap toe te sien, het hy gesê.
“Mense kan dan daarvolgens beplan,” het Oberholzer gesê.
Eskom sal die hoeveelheid krag wat hy van die nasionale netwerk verwyder vanaf 16:00 op 14 Oktober halveer tot 1 000 megawatt.
Voor dit sal Eskom voortgaan om 2 000 megawatt van 16:00 tot middernag Woensdag en Donderdag te sny, luidens ’n verklaring op Twitter.
“Sover moontlik sal Eskom poog om beurtkrag tot nagtyd te beperk om ’n minimale impak op die ekonomie en bevolking te hê,” het dit gesê.
Eskom sal Vrydag die eerste kontrakte onderteken om grond aan vyf onafhanklike kragprodusente te verhuur sodat hulle hernubare energieprojekte kan ontwikkel, het die kragvoorsiener gesê.
Die maatskappy het in Junie aangekondig dat hy 18 maatskappye gekies het om persele by sy kragsentrales te huur. Die bod vir sowat 4 000 ha is vir projekte wat na verwagting 1 800 megawatt se hernubare energie sal verskaf.
– www.moneyweb.co.za/news/south-africa/eskom-coo-sees-another-18-months-of-south-africa-outages/