Die ou kerkhof en konsentrasiekamp in Winburg is die afgelope naweek deur vrywilligers van ’n kultuurnetwerk skoongemaak.Foto: Verskaf


Die konsentrasiekamp en die ou kerkhof in Winburg is opgeknap en skoongemaak om weer die ryk geskiedenis van dié dorp na vore te bring.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se kultuurnetwerk in die Vrystaat pak dikwels skoonmaak- en opknappingsprojekte van konsentrasiekampe aan.

Die afgelope naweek, op Saterdag (20/08) en Sondag (21/08), was Winburg se konsentrasiekamp aan die beurt.

Lede van die plaaslike tak van AfriForum, asook van die Vaaldriehoek en Krugersdorp, het saam met die FAK en lede van die VF Plus ingespring om dié taak aan te pak.

Winburg het ’n ryk geskiedenis en vele bekende Afrikaners kom hiervandaan. So het Andries Pretorius, genl. Koos de la Rey, die eerste staatspresident, Blackie Swart en pres. MT Steyn almal bande met dié dorp in Lejweleputswa.

“Dis ’n dorpie wat ruim bygedra het tot die geskiedenis van Suid-Afrika. Die FAK laat nie toe dat verval sy kloue inslaan nie. Die FAK en sy vrywillige hande uit die kultuurnetwerke gee om en werk saam om ’n verskil te maak in gemeenskappe waar dit nodig is,” sê Marné Scholtz, mediabeampte van FAK.

“Kultuurmense is omgee­mense en werk saam aan ’n tuiste vir Afrikanererfenis,” sê die FAK-kultuurorganiseerder van die Vrystaat, Jan-Danie Malan.

Mense wat graag by hierdie kultuurnetwerk betrokke wil raak, kan Malan by 082-965-7002 bel om meer van die netwerke uit te vind, asook van die projekte wat aangepak word.

You need to be Logged In to leave a comment.