Die afgelope Sondag het ons na Koninkrykstyd beweeg in die liturgiese kerkjaar.

Een van my gunsteling-beelde in Koninkrykstyd is die skip op die stormwater, dit vat my altyd terug na die gelykenis in Markus 4: 35–40.

Dit is maklik een van my gunsteling-verhale in die Bybel.

Jesus wat rustig lê en slaap terwyl hy saam met die dissipels reis in die boot. Ons almal weet dat die wind en see begin woed het, die dissipels raak vreesbevange soos afkop hoenders en hardloop rond, terwyl Jesus rustig slaap. ’n Toets – julle sê mos gereeld julle glo, kom ons toets dit.

Ongelukkig dop hulle die toets, maak vir Jesus wakker, benoud en vreesbevange. Red ons Here, ons gaan vergaan. Jesus ontwaak rustig, met kalmte en vrede. Hy bestraf die wind en see.

Hy draai na die dissipels en vra: “Waarom is julle bang? Het julle nog steeds nie geloof nie?” Hulle is met diep ontsag vervul en het vir mekaar gesê: “Wie is Hy tog dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?”

Die dissipels se geestestoestand is juis waar die meeste van ons as gelowiges is: Ons kan al die dade van die Here hoor, Hom leer ken en ontmoet in die geskrifte, maar juis daar in die storms van ons lewe, daar begin ons angstig raak, begin ons twyfel en roep ons uit: Here, red ons!

Die bevel wat gegee is om die wind en see te laat bedaar, is dié eintlike troos woorde waarna ons hart verlang. Dieselfde woorde van Lied 519:

Wees stil en weet, Ek is die Heer.

Ek spreek en wind en golwe bedaar. Ek sal ook jou getrou bewaar.

Waarom is ons dan verbaas, vra ons in onkunde: Maar wie is Hy dat die storm na Hom luister?

Ons weet mos reeds Hy is wat Hy is en wat Hy sal wees. Die eintlike vraag is. Waarom het ons begin twyfel? Ons moes net stil wees, vertrou, die storm sal bedaar, sal verbygaan.

Dit gaan alles terug na daardie eerste woord vir ’n etiese en gelukkige lewe naby God: vertroue. – Domonic Basson, leraar, NG Kerk St Helena

You need to be Logged In to leave a comment.