Koester die ‘swakheid’ van dié afhanklikheid

Henri Nouwen skryf: “Daar is Iemand wat ons intens liefgehad het lank voordat ons ouers, onderwysers, eggenotes, kinders en vriende ons liefgekry het.”.


Henri Nouwen skryf: “Daar is Iemand wat ons intens liefgehad het lank voordat ons ouers, onderwysers, eggenotes, kinders en vriende ons liefgekry het.”

Luister ’n slag na die Stem wat vir jou sê: “Jy is my geliefde – my guns rus op jou, Ek het jou naam in my handpalms gegraveer, Ek het elke haar op jou kop getel . . . waar jy ook al gaan, sal Ek by wees. Niemand en niks sal ons ooit kan skei nie.”

Die sanger van Psalm 62 is ’n gebroke en vervolgde mens. Tog, ondanks al sy terugslae, sien ons die volgende uitdrukkings: “net by God”, “net Hy”, “vertrou altyd op Hom” en “net op U”.

Dawid beleef bedreigings, maar sy hulp kom van die Here en dit maak hom kalm. Dié rus gee vir hom die krag om nie moed te verloor nie.

Die mens word opgeroep om alleen sy vertroue op die Here te rig.

In Openbaring 3:20 nooi Jesus ons om die deur van ons hart oop te maak sodat Hy kan inkom en saam met ons ’n feesmaal hou. ’n Feesmaal van eenwees met Hom. Jesus se binnekoms skep rus en vrede in ons lewe.

Die vraag is of ons al hierdie rus in ons lewe ervaar het?

Mense kan sê “ek het al daarna gesoek”, ander kan sê “ek het dit nog nie ervaar nie.” Ander kan selfs sê “ek het daarvan gehoor, maar dit nog nie my eie gemaak nie.”

Wanneer kommer, onsekerheid en onrustigheid jou lewe raak, hou vas aan die woorde van Levitikus 25:38 – “Ek is die Here julle God wat julle uit Egipte laat trek het om Kanaän aan julle te gee en om julle God te wees.”

Hierdie afhanklikheid voel dalk soos ’n swakheid. Koester hierdie swakheid, want daardeur getuig jy dat jou krag nie lê in jou eie goedheid nie, maar in God se liefdevolle hand.

Die Here wil ons gebruik terwyl ons in rus met Hom lewe. Kom ons vertrou die Here om ’n stiltetyd met Hom te ervaar. Breek ’n slag met die wêreld se gejaag en aansien.

Wag op die Here en beleef die rus en vrede in jou lewe. Die stilte sal die rigting van lewe bepaal. – Ds. Philip McLaren, leraar aan die NG kerk Bedelia

You need to be Logged In to leave a comment.