Ek wonder vandag wat het geword van die dag van die klein dingetjies waarvan Sagaria 4:10 in die Bybel vertel.
Ons hou van groot goed, maar Sagaria sê, moenie die dag van die klein dingetjies gering ag nie.
Dit is so maklik om klein dingetjies in die lewe mis te kyk of gering te skat, omdat ons almal haastig is om resultate te sien en omdat ons graag groot resultate wil sien. Dit lyk tog vir my asof God baie van klein dingetjies hou.
In die Ou Testament moes Moses net met sy kierie op die water slaan om die Rooi see oop te kloof.
Ragab moes net ’n rooi lap aan haar venster vasmaak om haar hele familie te red.
God het die reuse-weermag van die Midianiete met net 300 soldate uit Israel oorwin.
In Johannes 6 word vertel hoe Jesus vir meer as 5 000 mense kos gegee het met ’n seuntjie se middagete.
Jesus het op ’n keer vir ’n arm weduwee ’n kompliment gegee, omdat sy haar laaste sente vir die kerk gegee het.
Jesus sê ook ons kan berge skuif as ons geloof maar net so groot soos ’n mosterdsaadjie is en ons sal geseën word as ons vir iemand wat dors is maar net ’n beker koue water gee.
Op dieselfde manier het God male sonder tal klein en eenvoudige mense gebruik om groot goed te doen.
Dink net aan die eenvoudige vissermanne waarmee Hy sy kerk op aarde gebou het.
Watter klein takie lê dalk vandag voor lê jou? Dalk is dit net ’n beker koue water vir ’n dors boemelaar? Dalk is dit net ’n glimlag vir ’n kassier by die winkel wat moeg gewerk is? Dalk is dit net ’n sagte aanraking van vertroosting of net jou stille teenwoordigheid by iemand wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het? Moenie daarop neersien omdat dit te klein lyk om ’n verskil in God se Koninkryk te maak nie.
Dit is dikwels die klein, onsigbare dingetjies wat hoop gee in die lewe. Die groot projekte en uitreike is goed, maar dis periodiek en gebeur nie elke dag nie.
Miskien gee ons klein dade van goedhartigheid elke dag vir God groter geleentheid om Homself vir ons en vir die wêreld te wys. Met minder van ons, is daar meer van God wat mense raaksien. Ook in die verkiesingstyd kan konstante klein dade van goedhartigheid in ons gemeenskap mense se koppe swaai as hulle die Here in ons sien werk.
Sagaria 4:6 sê, jy sal nie suksesvol wees deur op jou eie krag staat te maak nie. Dit is die Gees van die Here wat vir jou sukses sal gee. 2 Korintiërs 12:9 sê God se krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. 2 Korintiërs 2:14 en 15 sê God vat ons oral saam in sy oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak.
Ons kan nie almal groot goed vir die Here doen nie. Moenie moed opgee nie. Hou aan om die klein dade van goedhartigheid te doen wat die Here elke dag op jou pad bring. – Peet Louw is leraar van die Erfdeel NG kerk in Riebeeckstad