AfriForum het op 19 Mei strafregtelike klagte teen Zingisa Tindleni, munisipale bestuurder van die Matjhabeng-munisipaliteit, ingedien.
“Jare al oorspoel rou riool vleilande, boere se plase, stukke veld en besigheids-gebiede, en dit borrel in erwe in Matjhabeng uit,” sê Chris Morgan, AfriForum se distriks-koördineerder vir die Hoogland.
Die strafregtelike klagte kom nadat AfriForum die munisipaliteit aangemaan het oor die rioolkwessies in Welkom en omliggende dorpe en geen terugvoering ontvang het nie.
AfriForum het verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang oor die rioolstelsels en infrastruktuur in die Welkom-distrik wat nie behoorlik onderhou word nie en dus nie werk soos dit moet nie. Dit lei dan na die uitvloei van rou riool.
AfriForum het ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig oor rou riool wat van die rioolplaas na omliggende gebiede vloei en tot gevolg het dat die grond besoedel word, asook die ondergrondse waterbronne.
Dit veroorsaak dat mense se lewensgehalte en gesondheid negatief beïnvloed word.
“Dit is verstommend dat die munisipaliteit steeds nie opgetree het en behoorlik aandag aan hierdie probleem geskenk het nie,” sê Morgan.
“Daar kan nie met mense se gesondheid gedobbel word nie. Die omstandighede waarin die gemeenskap van Matjhabeng leef, is onmenslik.
“Nie net hou dit ’n groot gesondheidsrisiko vir die landelike en dorpsgemeenskappe, diere en omgewing in nie, maar dit het ook ’n geweldige negatiewe impak op die plaaslike ekonomie,” sê Morgan.
Daar kan nie met mense se gesondheid gedobbel word nie. Die omstandighede is onmenslik. – Chris Morgan