Die vermiste burgermeestersketting is glo laaste in die besit van Nkosinjane Speelman, die uitgetrede burgermeester, gesien.Foto: Verskaf

Bykans twee maande nadat dit bekend geword het dat die Matjhabeng-munisipaliteit se waardevolle burgemeestersketting spoorloos verdwyn het, swyg dié owerheid steeds oor die redes waarom die ketting weg is.

Armand Cloete, VF Plus-lid van die provinsiale wetgewer, het gesê sy party eis nou dat die munisipaliteit antwoorde gee oor die vermiste ketting, wat volgens inligting nagenoeg R20 miljoen werd is.

Dit is glo die duurste ketting in sy soort in die land en is deur myngroepe aan die destydse Welkom-munisipaliteit geskenk.

Met die inhuldiging van die nuwe burgemeester, David Khalipha, op 29 November het die verdwyning van die ketting aan die lig gekom.

Die pasverkose speaker van die raad, Bheki Stofile, het kort voor sy inhuldiging verskoning gemaak en gesê dat die ketting moontlik nog by die uittredende burgemeester, Nkosinjane Speelman, is.

Maar Speelman en van sy ondersteuners het Khalipha op die seremonie vanuit die galery uitgejou en gevra waar sy ketting is.

Cloete sê dis nie duidelik of Speelman die ketting aan die munisipaliteit terugbesorg het nie. Benewens die feit dat die burgemeestersketting van onmeetbare historiese waarde is, is dit na raming boonop sowat R20 miljoen werd, sê Cloete. Dit is onder meer gemaak van goud wat uit elke skag van die Goudveld kom.

“Sou dit verlore wees, verloor die inwoners nie alleen die geldwaarde daarvan nie, maar ook ’n item van geskiedkundige belang.”

Cloete sê die VF sal ’n klag by die polisie aanhangig maak as die munisipaliteit nie antwoorde verskaf of optree nie.

“Ons meen daar moet streng opgetree word as die ketting nie gou opgespoor word nie,” sê hy.

Die munisipaliteit het gesê hy sal binnekort ’n mediaverklaring uitreik oor die kwessie, en dit na verwagting op die volgende raadsvergadering bespreek sal word.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025