Ons leef in ’n tyd waarin alles vinnig moet gebeur.
Daar is allerhande kitskosse beskikbaar. Jy sit dit vinnig in jou mikrogolfoond of jou lugbraaier, en binne ’n kort tydjie is jou kos gaar.
As jy nie lus is vir vuurmaak vir die braai nie, gebruik jy sommer jou gasbraaier en die vleis is vinnig gaar. Daar is reekse kitskos beskikbaar.
Baie mense het ook kitsoplossings vir die lewe. ’n Gewilde voorskrif is: Jy moet net glo alles sal regkom. En wanneer dit dan nie regkom nie, gee jy maar moed op en gee boedel oor.
Gaan lees weer die Josefverhaal in Genesis 37 – 50. As seuntjie het Josef vreeslike mooi drome gehad dat hy oor sy familie en almal heers.
Hy vertel die drome vir sy ouers en broers en is redelik ongewild as gevolg daarvan. Bietjie verder in die verhaal vat sy broers hom en gooi hom in ’n put. Hy word later verkoop as slaaf en beland ook in die tronk in Egipte.
Josef kon terugkyk oor dit alles en by homself sê: “Hierdie dinge was vir seker nie in my drome nie.” Hy kon ook verder sê: “My drome was maar net drome, en ek moes eintlik weet daar kon niks van kom nie.”
Dan kon hy rustig aangaan met sy lewe met geen verwagtinge.
Maar Josef hou vas aan sy drome, en hy werk daaraan omdat hy glo die Here het ’n plan met sy lewe. Uiteindelik word sy drome waar wanneer hy die onderkoning in Egipte word en sy broers kom buig voor hom.
In Genesis 45 sê Josef vir sy broers dat dit wat hulle hom aangedoen het, uiteindelik uitgewerk het as deel van God se plan X ook omdat Josef die droom bly leef het ten spyte van alles wat gebeur het.
Het jy drome? Het jy al opgehou droom omdat dit lyk of net niks wil werk of in plek val nie?
Doen jy wel iets aan jou drome? Leef jy jou drome uit? In Josef se lewe was daar geen kitsoplossings nie.
Dit het jare geneem. In jou lewe is daar waarskynlik ook nie kitsoplossings vir alles nie. Jy moet werk daaraan, soos wat Josef aan sy drome gewerk het. Aan die einde kan jy dalk ook terugkyk en die Here se pad met jou en jou drome raaksien. Gaan leef jou drome uit.
) Lood Oliver is
leraar van die NG gemeente Welkom-Noord
.