‘n Kitsbank by ‘n vulstasie in Meloding by Virginia is
opgeblaas. Toe ‘n sekuriteitsbeampte op die paniekknoppie gerageer
het, het ‘n oor-en-weer skietery tussen die rowers en ‘n
sekuriteitsbeampte ontstaan.
Maandag (25/07) omstreeks 02:00 het ‘n sekuriteitsbeampte gereageer op ‘n paniekalarm by ‘n vulstasie in Meloding. Met sy aankoms het hy ‘n groep van sowat tien mans opgemerk. Hy het ook gesien dat die OTM opgeblaas is.
“In hierdie stadium is dit nie bekend hoeveel geld gesteel is nie, maar R200-note, wat met groen ink gevlek was, is langs die kitsbank gevind,” sê kapt. Stephen Thakeng, mediaskakelbeampte van die Lejweleputswa-polisie.
Verskeie patroondoppies en een lewendige 9 mm-rondte is op die toneel gevind.
Poging tot moord en die opblaas van ‘n kitsbank word deur die Meloding-polisie ondersoek.
Enigiemand met inligting wat tot die inhegtenisneming van hierdie verdagtes kan lei, moet Speur. Sers. James Ramaphiri van die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid by 065-629-6409 of die polisie-noodnommer 08600 10111 bel.