Ongekontroleerde water weens gebarste waterpype stroom in by ’n dam by Bronville wat naby aan ’n informele nedersetting geleë is. Foto: Verskaf


Inwoners is bekommerd dat ’n herhaling sal plaasvind van die hartseervoorval waarin twee boeties in Januarie 2022 in ’n watergat by Bronville verdrink het.

Op daardie noodlottige dag het Nadio (5) en Marshall Pienaar (7) verdrink toe Marshall na ’n dieper deel van die dam, wat deur spoelwater van ’n gebarste pyp veroorsaak is, beweeg het.

Sy voete het in die diep kleilaag op die bodem vasgesit. Sy kleinboet wou hom help, maar hy het ook onder die water verdwyn.

Onstoke inwoners sê twee jaar later is daar nie net ’n groot slikdam nie, maar ook ’n sterk vloeiende waterkanaal weens ’n gebarste pyp.

“Die kinders van Bronville en die nabygeleë informele nedersettings stroom in hordes soontoe om in die hitte ’n bietjie lafenis te kry,” sê Spt. Bokvel Pietersen van Matjhabeng Veiligheid.

Hy sê dat as ouers nie kinders nie van die gevaarsone weghou nie, gaan daar weer ’n herhaling van die gebeure van 13 Janurie 2022 wees.

Pietersen sê die owerhede, wat Harmony-goudmyn insluit, moet die lekkende pyp herstel.

Inwoners sê daar sou glo reeds in 2020 ’n nuwe swembad in Bronville gebou word, maar dit is weens ’n tekort aan geld nooit voltooi nie.

Die onvoltooide swembad is intussen erg gevandaliseer.

  • Inwoners meen die kinders sou nie by myndamme en kanale gaan swem het as daar ’n swembad was nie. Ná 14 dae van munisipale stakings sit Meloding-inwoners steeds sonder water nadat ’n gebarste waterpyp die watertoevoer onderbreek het.

You need to be Logged In to leave a comment.