Khalipha se versuim om voor wetgewerkomitee te verskyn, laat Matjhabeng in die steek

Tempestweg in Welkom. Dié waterlek is vier dae oud.Foto: Verskaf


Die ANC kan weer daarvan verdink word dat hy nie daarin belangstel om verantwoordbaar gehou te word nie.

Matjhabeng se burgemeester, Thanduxolo Khalipha, was nogmaals afwesig op ’n vergadering van die Petisiekomitee van die Vrystaatse Wetgewer wat op Woensdag 22 November in Bloemfontein gehou is.

Die verwagting was dat hy op die vergadering antwoorde sou verskaf oor hoe die munisipaliteit se knaende watertekorte, rioollekke en algehele gebrek aan dienslewering aangespreek gaan word.

Khalipha was ook afwesig op die Petisiekomitee se vergadering in September.

“Khalipha verkies egter om agter die Strukturewet weg te kruip en sy burgemeesterskomiteelede (MMC’s) af te vaardig om namens hom te reageer,” meen Armand Cloete, VF Plus-lid in die Vrystaatse Wetgewer.

Die petisie is in Julie 2021 by die wetgewer ingedien nadat die soveelste waterkrisis in die munisipaliteit inwoners dae lank sonder water gelaat het.

“Ons eis dat die munisipaliteit dringend oplossings vir Matjhabeng se water- en rioolinfrastruktuur instel. Sedert Khalipha se verkiesing as burgemeester, was daar nog geen verbetering nie. Sy talle beloftes bly leeg, en die toestand van ons dorpe gaan daagliks verder agteruit.”

Riool vloei steeds in die strate en selfs in mense se huise. Inwoners wag ook angstig op die volgende waterkrisis, soos die afgelope jaar telkens die geval was.

“Ons sal aanhou eis dat Khalipha voor die komitee verskyn om vir die diensleweringsgemors in Matjhabeng verantwoordbaar gehou te word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Untitled post 265989
    Vista E-edition 10 July 2025