Groot ontevredenheid heers oor die Vaal Sentrale Waterraad (VCW) se kennisgewing dat die watertoevoer na die Matjhabeng-munisipaliteit van Donderdag 25 Julie af beperk sal word. Die besluit is geneem weens die munisipaliteit se versuim om sy VCW-rekening te vereffen.
AfriForum het die VCW versoek om nie met die beplande waterbeperkings voort te gaan nie, en regstappe sal oorweeg word indien geen gehoor aan die versoek gegee word nie.
Die organisasie meen dat die waterbeperkings inwoners sal straf, eerder as die munisipaliteit self; ook dat die meeste verbruikers hul munisipale rekeninge getrou betaal, te midde van Matjhabeng se versuim.
In ’n skrywe het AfriForum die VCW daaraan herinner dat inwoners volgens wet minstens 30 dae skriftelike kennis moet ontvang voordat drastiese stappe geneem kan word. Die VCW het sy kennisgewing eers verlede week uitgereik.
“Toegang tot skoon water is ’n grondwetlike reg. Ons kan nie toelaat dat geskille tussen staatsorganisasies ons gemeenskappe negatief beïnvloed nie,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se raadgewer vir plaaslikeregeringsake.
Christa Ikking, distrikskoördineerder vir die Hoogland, sê AfriForm sal die situasie deeglik moniteer om te verseker dat die gemeenskap van die water voorsien word waarop hul geregtig is.
AfriForum was vroeër vanjaar in ’n soortgelyke geding met Rand Water betrokke. In die uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria het die organisasie toestemming ontvang dat, sou Rand Water weer waterbeperkings weens die munisipaliteit se nalatigheid instel, die hof weer genader kan word.